Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man kritiek nadat 5 op hom losbrand

’n Man van Port Elizabeth veg om sy lewe in die hospitaal nadat vyf gewapende mans op hom losgebrand het.

Die gewapende mans het Woensdag op Ernest Melville (41) toegeslaan toe hy en sy werkers meubels in Kwazakhele afgelewer het.

Ernest en Sarie Melville. Foto: Verskaf

“Sedert 23:00 gisteraand (Woensdagaand) is hy kritiek,” het ’n hoorbaar emosionele Sarie, Melville se vrou, Donderdagoggend gesê.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, sê die 32-jarige huiseienaar en ’n 48-jarige buurman was besig om ’n bank by die huis in te dra, terwyl Melville wag gestaan het in die erf.

“Volgens die huiseienaar het hy die bank laat val en die huis binne gehardloop toe hy die verdagtes sien aankom.

“Hy het verskeie skote gehoor klap en met sy terugkeer na buite is mnr. Melville gewond buite by die hek aangetref,” sê Beetge.

Ook die buurman is met ’n mes in sy hand en arm gesteek.

Beetge sê niks is in die voorval geroof nie en die aanvallers het gevlug.

Teen Donderdagoggend was Melville steeds in ’n koma in die waakeenheid van die Livingstone-hospitaal.

Paramedici en polisiebeamptes is Woensdag op die toneel in KwaZakhele waar Ernest Melville deur vyf mans geskiet is.

Sarie sê Melville se noodoperasie van Woensdag is gestaak toe dit blyk dat sy lewe in gevaar sou wees indien hulle verder opereer.

“Die dokters het besluit dit sal beter wees om (die wonde) vir eers net toe te maak totdat hy meer stabiel is,” sê Sarie.

Sy sê Melville is vyf keer raakgeskiet. Een van die skote is deur sy skouer en sit in sy nek vas. Dié koeëlwond het sy rug- en nekbeen gekraak. Hy is ook in sy been getref en die dokters oorweeg tans verskeie behandelingsopsies, waarvan amputasie ook ’n moontlikheid is, sê Sarie.

Sy het die hospitaal Donderdagoggend omstreeks 02:00 verlaat en toe was Melville steeds in ’n koma en deur masjiene aan die lewe gehou.

Die afleweringsbakkie en sleepwa met die meubels wat Ernest Melville in Kwazakhele afgelewer het.

Pieter van Rooyen, eienaar van die JD Groep-afleweringsmaatskappy vir wie Melville as subkontrakteur gewerk het, sê dié voorval het hulle weer eens laat besef dat hulle deur die polisie vergesel moet word wanneer hulle in gevaarlike gebiede aflewerings doen.

“Ernest is een van die beste werkers en hy was gewapen. Eerlikwaar, ons almal voel maar altyd bedreig wanneer ons in die gebiede ingaan. Maar soms is die polisie te besig om ons te vergesel, dan vat ons maar ’n kans.”

Van Rooyen sê hy is ook sowat ’n jaar gelede tydens ’n aflewering in New Brighton aangeval.

“Hulle (die aanvallers) het drie gate in my kop gekap. Die vuurwapen teen my kop gedruk en twee keer die sneller getrek. Gelukkig het die wapen albei kere net gekliek en hulle is net daar weg met my selfoon. Ek het 21 steke in my kop gekry.”

Nog een van sy werkers het ’n kaping van hul afleweringsvragmotor oorleef, maar kan weens die trauma nie meer werk nie.

“Ons verstaan die polisie is besig en kan ons nie altyd help wanneer ons hulle nodig het nie, maar ons kan nie so voortgaan nie. Ons gaan of nou geduldig moet wag vir die polisie om ons te vergesel of belê in gewapende veiligheidsfirmas wat ons vergesel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.