’n Man van Noordwes se toestand is nog bedenklik nadat hy Dinsdagaand deur vyf mans bewusteloos geslaan en geskiet is.
Trevor Roberts van Conserv Sekuriteit sê Willem Joubert (37) is om 21:35 op sy plaas naby Broederstroom in Noordwes oorval.
Joubert het gaan ondersoek instel toe sy alarmstelsel geaktiveer is.
“Die vyf aanvallers het hom aangeval en erg aangerand. Hy is vermoedelik met ’n stomp voorwerp geslaan voordat hulle hom in sy bolyf geskiet het,” sê Roberts.
Die aanvallers het probeer om die bewustelose Joubert by die huis in te sleep, maar het hom toe eerder vasgebind en langs die swembad gelos.
“Hulle het vermoedelik besluit dit is net te veel moeite omdat hulle met die dooie gewig van die bewustelose man gesukkel het,” sê Roberts.
Joubert se suster het haar in die huis toegesluit en die paniekknoppie gedruk. Sy kon daarna by die agterdeur uitvlug en by werkers gaan hulp soek. Sy en een van die werkers het toe in die veld weggekruip totdat die veiligheidsmaatskappy opgedaag het.
Die aanvallers het met ’n skootrekenaar, iPad, selfone en ander goedere gevlug.
“Ons verstaan dit gaan nog sleg met Joubert en hy is steeds in die waakeenheid,” sê Roberts.