Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man ondervra ná moord by winkelsentrum

’n Verdagte (28) word in verband met die moord op ’n man in die parkeergebied by die Cleary Park-winkelsentrum in Port Elizabeth vir ondervraging aangehou.

Die polisie het die oorlede man, wat helder oordag op die winkelsentrum in Bethelsdorp se parkeergebied geskiet is, as William Henry (39) geïdentifiseer.

Hy is Dinsdag omstreeks 12:00 met ’n skietwond in sy kop aangetref.

Inligting rakende die beskrywing van die man se moordenaars is spoedig aan die polisie deurgegee. Binne tien minute het polisiebeamptes van die teenbende-eenheid ’n man in Harringtonstraat gesien wat met een van die beskrywings ooreengestem het.

Die rewolwer wat in ’n huis in Barendstraat gekonfiskeer is en vermoedelik in die moord op ’n man by die Cleary Park-winkelsentrum gebruik is. Foto: Verskaf

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê die verdagte het begin hardloop die oomblik toe hy sien die polisie is op sy spoor.

“Die polisie het agter hom aangehardloop. Die verdagte het oor verskeie heinings gespring, maar is oplaas binne ’n skool se erf vasgetrek. Geen vuurwapen is in sy besit gevind nie.”

Die polisie het agter hom aangehardloop. Die verdagte het oor verskeie heinings gespring, maar is oplaas binne ’n skool se erf vasgetrek. Geen vuurwapen is in sy besit gevind nie

Die 28-jarige man is in aanhouding vir ondervraging rakende die moord op Henry, het Naidu gesê.

Nog polisiebeamptes het ’n paar minute later ’n man in Barendstraat opgemerk wat haastig by ’n huis uitgestap het.

Volgens Naidu het die polisie die man deursoek, maar niks in sy besit gevind nie.

Met verdere ondersoek van die huis waaruit die man gestap het, is ’n .38-rewolwer agter ’n sementblok gevind.

Die vuurwapen se reeksnommer is afgekrap.

Naidu het gesê die polisie sal die vuurwapen wegstuur vir ballistiese toetse om vas te stel of die wapen moontlik in die moord gebruik is.

Die polisie kyk ook na kringtelevisiebeeldmateriaal by die winkelsentrum om verdagtes te probeer identifiseer.

* In ’n onverwante voorval word nog ’n moordsaak deur die Bethelsdorp-polisie ondersoek.

Dit kom nadat die polisie Dinsdag om 20:40 na Sugerbushstraat in Arcadia uitgeroep is.

Met die polisie se aankoms is die lyk van ’n man in die straat aangetref. Die vermoede is dat hy met klippe aangerand is, weens die bloed wat op klippe naby hom gevind is.

Hy is as Celvan Booysen (49) geïdentifiseer.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie wil nie bespiegel oor wat die motief agter die moord is nie. Geen ooggetuies het nog na vore gekom nie.

Meer oor:  William Henry  |  Port-Elizabeth  |  Ondervra  |  Moord  |  Winkelsentrum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.