Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man op hoewe vermoor toe hy vrou wil beskerm

’n Klein venstertjie was al wat twee aanvallers nodig gehad het om toegang te verkry tot die huis van ’n egpaar van Roodeplaat buite Pretoria en ’n gesin se lewens te verwoes.

Polisievoertuie op die toneel van die aanval op ’n hoewe in Roodeplaat net buite Pretoria. Foto: Dennis Delport

Toe die twee aanvallers Dinsdagoggend vroeg by die huis op die hoewe ingebreek het, het Peet van Wyk (74) alles in die stryd gewerp om sy vrou, Rita (72), te beskerm. Hy wou hulle uit die slaapkamer hou, maar is oorrompel.

“Hulle het hom met selfoonflitsligte verblind en hy is verskeie kere gesteek met messe wat die aanvallers in die huis gevind het,” het Christo van Wyk, hul seun, gesê.

Hy is ook verskeie kere met ’n klip oor die kop geslaan.

“Toe my pa die aanvallers in die sitkamer hoor, het hy hulle onmiddellik van die slaapkamer probeer weghou. Dit is toe dat hulle hom oorrompel en met die messe en klip aangeval het.”

Van Wyk het gesê sy pa se slagaar is raakgesteek en hy het kort daarna in die gang inmekaargesak. Sy ma het toe self die aanvallers aangedurf en is met ’n mes in die arm gesteek.

Die aanvallers het twee selfone en ’n televisie gesteel, waarna hulle een van die huis se deure oopgesluit en gevlug het.

Volgens Van Wyk het sy ma gaan hulp soek.

“Ek bly naby my ouers. My ma het na haar kar gestrompel en op ’n manier by my huis uitgekom. Ek het onmiddellik hulp ontbied.”

Sy is in ’n nabygeleë hospitaal opgeneem waar sy aansterk.

Hy het die moord op sy pa as “emosioneel en onregverdig” beskryf. Volgens hom was sy pa altyd hulpvaardig.

Die ingang na die hoewe waar die egpaar se huis geleë is. Foto: Dennis Delport
Polisiebeamptes ondersoek die toneel waar ’n egpaar in hul huis in Roodeplaat aangeval is. Peet van Wyk is doodgesteek en sy vrou, Rita, is beseer. Foto: Dennis Delport

“Hy het net een woord geken: ‘Ja’. Hy het altyd ‘ja’ vir almal gesê,” het hy gesê met trane is sy oë gesê.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie na twee verdagtes soek.

“Hulle het die hoewe omstreeks 04:00 binnegedring. Ons ondersoek klagte van moord, roof en aanranding met die doel om ernstig te beseer.”

Masondo vra dat enigiemand met inligting die polisie by 0860 10111 sal skakel.

Meer oor:  Peet Van Wyk  |  Pretoria  |  Moord  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.