Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man op kwadfiets op plaas voorgelê, aangerand

Ruan Potgieter (21) is Maandag helder oordag op ’n plaas naby Koster in Noordwes voorgelê en aangerand.

Kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in die Rustenburg- en Koster-distrik, sê Potgieter het omstreeks 16:15 op die plaas Hartbeesfontein op ’n kwadfiets gery.

“Hy het by ’n vriendin daar gekuier. Potgieter moes egter op ’n sekere plek in die plaaspad stilhou omdat daar klippe op die pad gepak was. Toe hy afklim om die klippe uit die pad te haal, het vier of vyf mans skielik te voorskyn gekom en hom aangerand.”

Augoustides sê hulle het hom erg verniel.

“Hy het gesigbeserings opgedoen en ook sy skouer seergemaak. Die aanvallers het gevlug sonder om enigiets by Potgieter te roof. Hy was erg getraumatiseer, maar kon self na die plaashuis terugry.”

Die polisie het versoek dat Potgieter vir eers nie mediaonderhoude moet toestaan totdat hy ’n verklaring afgelê het nie.

“Die motief vir die aanval is onbekend,” sê Augoustides.

“Die aanvallers is nie werkers op die plaas nie, dit was onbekendes. Ons ondersoek ’n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die aanval op Potgieter is die 227ste plaasaanval vanjaar in Suid-Afrika, het Guido Urlings van AfriForum Dinsdag gesê. Sedert Januarie is 32 plaasmoorde gepleeg – waarvan drie die afgelope naweek.

Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, het vroeër gesê enige aanval op landbougrond op wie ook al, al is die slagoffers besoekers aan die plaas, word as ’n plaasaanval geklassifiseer.

Die president het dadelik sy medelye uitgespreek toe enkele moskees aangeval is waarin mense dood is en het selfs ’n presidensiële kommissie van ondersoek aangestel na hierdie aanvalle en moorde in moskees, maar hy swyg oor plaasmoorde.
Dr. Pieter Groenewald

“Dit sluit aanvalle op plase en op hoewes in, ongeag of die motief moord, verkragting, roof of aanranding is. Dit maak ook nie saak of die motief verband hou met ideologie, arbeidsgeskille, grondkwessies, wraak, griewe of intimidasie nie – dit bly plaasaanvalle.”

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het in reaksie op die plaasmoorde die naweek in Noordwes en die Wes-Kaap gesê die party is teleurgesteld in pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, minister van polisie, se “stilswye” daaroor.

“Die president het dadelik sy medelye uitgespreek toe enkele moskees aangeval is waarin mense dood is en het selfs ’n presidensiële kommissie van ondersoek aangestel na hierdie aanvalle en moorde in moskees, maar hy swyg oor plaasmoorde. Dieselfde geld die minister van polisie wat hom ook sterk uitgespreek het oor die aanvalle en moorde in moskees, maar oor plaasmoorde word niks gesê nie.”

Die drie mans wat die naweek vermoor is, is Jeffrey Zetler (62) van die plaas Mooiberge buite Stellenbosch, Kallie Schoonraad (47) van Rustenburg en Peter Dawson (64), wat op ’n hoewe naby Hartbeespoort doodgeskiet is.

Groenewald glo plaasaanvalle en plaasmoorde behoort in dieselfde kategorie as huisrooftogte in ’n stad of dorp beskou te word en daarom dieselfde fokus en prioriteit van die polisie te geniet.

Meer oor:  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.