Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man op skoolterrein geskiet, vrou en seun met koevoete aangerand

Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n man geskiet en sy gesin met koevoete aangeval is.

Die voorval het Maandagaand by die Tshwane Muslim School in Laudium plaasgevind.

Die slagoffer, wat by die skool werk, het ’n vergadering by die skool verlaat toe hy deur ’n onbekende groep verdagtes voorgekeer is.

Ibrahim Dockrat, voorsitter van rampbestuur vir Laudium, sê die man, sy vrou en seun is aangeval toe hulle ná die vergadering huis toe geloop het. Hul huis is agter die skool geleë.

Volgens voorlopige inligting is hy geskiet toe hy sy gesin probeer beskerm het. Die vrou en seun is na bewering met koevoete aangerand.

Die man is in sy maag en skouer geskiet en later na die Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer, waar hy ’n operasie ondergaan het.

Volgens Dockrat het een van die koeëls in sy ruggraat vasgesteek.

Die slagoffer was Dinsdagaand in ’n kritieke, maar stabiele toestand. Sy vrou en seun is ook in die hospitaal opgeneem, maar is sedertdien vir ligte beserings behandel en ontslaan.

Dockrat het bevestig dat die voorval op die skoolterrein plaasgevind het. Volgens hom lyk dit of die verdagtes probeer het om by die skool in te breek.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê ’n saak van poging tot moord word ondersoek.

“Die polisie het inligting ontvang oor ’n skietvoorval by die Tshwane Muslim School in Laudium. Die polisie het vinnig op die gegewe inligting gereageer,” het Masondo in ’n verklaring gesê.

“Die slagoffer is in die bolyf geskiet en gewond en die ander slagoffers het beserings opgedoen.”

Masondo het gesê die verdagtes het ná die skietery gevlug. Die motief vir die aanval is onbekend.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.