Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man se as verewig in skildery

Lank het Mariandra Heunis nie geweet wat om te doen met die as van haar man, Johann Heunis, nie. Toe laat verf sy ’n skildery van hul gesin daarmee.

Johann is in Oktober 2016 in ’n gewapende rooftog op hul hoewe voor Mariandra en hul dogtertjies, Mischa (8), Mieke (7) en Majandré (4), doodgeskiet. Hul seuntjie, AJ (2½), is kort ná sy pa se dood gebore.

Die skildery van Mariandra en haar gesin. Foto: Verskaf

Mariandra sê Majandré het gedurig rondgeloop met die kissie as, wat sy in ’n kas in die huis gebêre het, en gesê dis haar pappa. Dit het haar laat besluit om iets daarmee te doen wat hom sigbaar deel van hul lewe sou maak.

Sy het deur ’n gemeenskaplike kennis by Marittie de Villiers, ’n kunstenaar van Somerset-Wes, uitgekom.

De Villiers het nog nooit met ’n mens se as geskilder nie, maar sy was bereid om te probeer.

Sy sê die as het dieselfde tekstuur as ’n produk wat ’n mens gebruik om tekstuur aan ’n skildery te gee.

De Villiers het eers die prent geteken en daarna twee lae verf geverf voordat sy die as by die laaste laag verf ingewerk het. “Ek het ná elke kwashaal die kwas gewas. Ná die tyd het ek die water in my tuin gaan gooi,” sê sy.

Sy sê dit was vir haar ’n baie emosionele ervaring. Toe sy begin verf, het sy ’n gevoel gekry dat Johann baie dankbaar is dat sy die skildery vir Mariandra verf. “Ek het sy energie gevoel terwyl ek verf.”

Mariandra, wat die as per koerier vir haar gestuur het, het haar ten volle met die projek vertrou. Sy het foto’s van Johann alleen en van hom saam met sy gesin vir haar gestuur en gesê sy kan self besluit hoe sy hom wil skilder.

De Villiers sê sy en Mariandra het net gekliek.

“Toe ek die eerste keer met haar oor die telefoon praat, het dit gevoel asof ek haar al lank ken.”

Die eindproduk is ’n skildery van 1,2 x 1,5 meter wat voortaan gaan hang in Mariandra se kantoor by haar nuwe begrafnis-onderneming in Pretoria.

Meer oor:  Johann Heunis  |  Verassing  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.