Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man sterf: 'Krion het ons geld vir medies gevat'

’n Yskor-pensioentrekker van Vanderbijlpark is in ’n staatshospitaal aan septisemie dood omdat ’n mediese fonds ’n onbe­kostigbare luukse was sedert hy sy aftreegeld in die Krion-piramideskema verloor het.

Elmarie Senekal (59), wie se man in ’n staatshospitaal dood is. Was dit nie vir Krion nie, sê sy, kon hulle ’n mediese fonds en private gesondheidsorg bekostig en was hy dalk nog hier. Foto: Deon Raath

Nou vrees sy weduwee sy sal haar huis moet verkoop om kop bo water te hou.

Elmarie Senekal (59) se man, Johan (69), moes tot die dag van sy dood werk om die pot aan die kook te hou nadat hy twee dekades gelede byna sy hele pensioen – R300 000 – in die Krion-skema belê het. Hy het 33 jaar vir Yskor (deesdae ArcelorMittal) gewerk voordat hy in 1999 afgetree het.

Elmarie glo as hy private sorg kon bekostig, sou die prosedure om ’n abses onder sy ken uit te sny nie tot sy dood gelei het nie. Hy het boonop in die staatshospitaal Covid-19 opgedoen.

‘Mevrou, jou man is dood.’

Sowat 14 000 mense het destyds soos Senekal R1,5 miljard in Krion belê. Baie van hulle het al hul bates verloor.

Marietjie Prinsloo, baasbrein van die skema, is in 2010 in die hooggeregshof in Pretoria vir 25 jaar tronk toe gestuur op 409 aanklagte van rampokkery en geldwassery.

Beleggers is verlei met ’n belofte van 10% rente.

“Aanvanklik het ons ’n goeie inkomste ontvang,” sê Elmarie.

“Johan se plan was om die geld vir twee jaar in Krion te los voordat hy dit sou onttrek en in die bank sit.”

Johan Senekal, wat onlangs aan septisemie dood is nadat hy in die hospitaal Covid-19 opgedoen het ná ’n operasie om ’n abses te verwyder.

Toe speel Krion bankrot.

“Dit het amper op ’n egskeiding uitgeloop. Ons het destyds baie swaargekry. Mense het vir ons kos gebring.”

Om die pot aan die kook te hou moes Johan weer gaan werk, by ’n maatskappy wat masjinerie herstel en versien.

Die egpaar het tot sy dood van dié salaris geleef.

“Ek weet nie wat nou gaan gebeur nie,” sê Elmarie. “Ek weet nie wat om te dink of te doen nie. Ek rou nog oor my man.”

Die abses op Johan se ken het verlede Oktober ontwikkel. Hy het aanvanklik gedink dit het met ’n tand te doen. Omdat hulle nie ’n mediese fonds het nie, is hy nie dadelik dokter toe nie. Toe hy uiteindelik ’n private dokter gaan sien het, is hy na ’n spesialis verwys wat osteomiëlitis, ’n inflammasie van die beenmurg, by hom gediagnoseer het.

Hy moes in ’n staatshospitaal geopereer word.

“Ons het week ná week by Baragwanath in rye gesit en wag. Ek was so bang vir Covid, maar uiteindelik is die operasie gedoen.”

Johan is ontslaan en was binne vier dae terug by die werk, maar toe begin hy siek voel.

Hy is vir Covid-19 getoets, maar nog voordat die uitslag ontvang is, het sy toestand so vinnig verswak dat hy weer in die hospitaal opgeneem is.

Vyf dae later het hy so agteruitgegaan dat die hospitaal Elmarie gebel het om haar man te gaan groet. ’n Dokter het bevestig sy organe begin ingee.

Sy toestand het wonderbaarlik verbeter en hy is na ’n gewone skaal geskuif en kon sonder ’n ventilator asemhaal. Elmarie was positief dat haar man volkome gaan herstel, maar toe bel die hospitaal op 6 Februarie en sê: “Mevrou, jou man is dood.”

Hy is uiteindelik nie aan Covid-19 dood nie, maar aan septisemie.

Elmarie sê sy koester nie meer ’n wrok teenoor Prinsloo en haar Krion-direkteure nie. “Destyds was ek so kwaad en seer omdat sy so iets aan haar eie mense kon doen, maar tyd het my gesond gemaak.

“Ek weet net as dit nie vir Marietjie was nie, kon Johan baie lankal afgetree het.”

Die likwidateurs het net R99 miljoen van die Krion-beleggers se geld teruggekry. Daarvan is R74 miljoen aan regskoste betaal en nóg R10 miljoen as kommissie aan die likwidateurs.

  • Die Inkomstediens het nog R4 miljoen gevat.Bykomende bronne: Netwerk24, Huisgenoot
Meer oor:  Bedrog  |  Mediese Fonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.