Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man ure lank aangehou ná sy identiteit gesteel is
Gerry Esterhuizen en sy vrou, Zerelda. Foto: Facebook

’n Vinnige sakebesoek na Lesotho het vir Gerry Esterhuizen (36) in ’n nagmerrie ontaard toe hy aangehou is weens misdade wat hy nie gepleeg het nie.

’n Skelm het sy naam en identiteitsnommer gebruik om onder meer goedere te steel en ’n motor te bekom, sê Esterhuizen van Krugersdorp, Gauteng.

Die polisie in Wepener, sowat 10 km vanaf die Van Rooyens-grenspos waar hy verlede Woensdag aangekeer is, het die voorval bevestig.

“Ek moes Woensdag Lesotho vir sake besoek het. Ek was die oggend omstreeks 10:00 by die Van Rooyens-grenspos duskant Wepener en my paspoort soos versoek aan die beampte gegee,” sê Esterhuizen.

Die stelsel het dadelik gewys die polisie is op soek na hom weens “gesteelde eiendom”.

“Ek was natuurlik verstom. Die polisiebeamptes het gesê dat hulle ’n lasbrief vir my inhegtenisneming sal aanvra. Ek het gesê ek het nog nooit diefstal gepleeg nie, maar die beamptes het net hul skouers opgetrek en gesê dit is wat my ID-nommer wys en klaar.”

Hy sê hy moes toe etlike ure in ’n wagkamer sit en kon sy selfoon by hom hou.

Hy het sy prokureur, Henry Gouws, gekontak.

“My prokureur het gesê iemand het my ID-nommer gebruik om onder meer ook ’n Polo te bekom. Dié man is blond en 1,73 m lank. Ek het swart hare en is 1,9 m lank.”

“Dit word nog ondersoek hoe die Polo bekom is,” sê Gouws.

Esterhuizen sê die beamptes by die grenspos het die lasbrief en dokumente gekry wat bewys hý is nie die verdagte nie.

“Hulle kon duidelik sien dit is nie ek nie, maar het my steeds aangehou. Ek is in ’n vangwa gesit en na die polisiekantoor op Wepener geneem.”

Esterhuizen sê hy is ná ’n “lang en traumatiese sewe ure laat gaan terwyl die polisie geweet het dit is nie ek wat die misdade gepleeg het nie”.

Gouws sê hulle wil skadevergoeding van die polisie eis.

Ek kan geen sakebesoeke landuit doen nie en kan in hegtenis geneem word as ek by ’n padversperring afgetrek word
Gerry Esterhuizen

Esterhuizen sê dit sal lank neem om sy naam skoon te kry.

“Ek kan geen sakebesoeke landuit doen nie en kan in hegtenis geneem word as ek by ’n padversperring afgetrek word.”

Kol. Thandi Mbambo, Vrystaatse provinsiale polisiewoordvoerder, sê Esterhuizen is na die polisiekantoor op Wepener vir ondervraging geneem.

“Sy ID-nommer het ooreengestem met dié van ’n man wat die polisie soek in verband met ’n diefstalsaak wat in Victoria-Wes aanhangig gemaak is.

“Esterhuizen is ondervra en later vrygelaat nadat die polisie op Victoria-Wes bevestig het dat hy nie die verdagte is nie,” sê Mbambo.

Mbambo sê die polisie gaan probeer vasstel hoekom hy en die verdagte dieselfde ID-nommer het.

*Alet Uys van Alet Uys Prokureurs in Pretoria sê al het ’n polisielid ’n lasbrief om ’n persoon aan te hou, moet die polisie steeds diskresie toepas.

“’n Redelike persoon sal dadelik kan sien indien ’n lasbrief nie vir ’n bepaalde persoon bedoel is nie,” sê Uys.

Uys se raad as jy agterkom jou identiteit is gekloon of gesteel:

* Meld dit onmiddellik aan in die gebied waar die misdaad (identiteitsdiefstal) gepleeg is.

* Stel die betrokke owerhede in kennis.

* “As jou nommerplaat byvoorbeeld vervals is, stel eNatis se forensiese misdaadeenheid daarvan in kennis met die saaknommer van die polisie sodat hulle jou nie aanspreeklik hou vir spoedoortredings nie.”

Meer oor:  Man  |   |  Gesteel  |  Aangehou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.