Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man van Brits sterk aan ná mesaanval

Dit is net genade dat ’n man van Brits, wat tien keer met ’n mes gesteek is, oorleef het.

Hy sterk nog aan in die hoësorgeenheid van Brits MediClinic, het Basie Niemandt se vrou, Marleen, Dinsdag gesê.

“Die dokters het gesê dit is duidelik aan die wonde dat die aanvaller bedoel het om dood te maak,” het Marleen oor die foon aan Netwerk24 gesê.

Haar man is Saterdag deur ’n onbekende aanvaller oorrompel by die geleentheidsvenue Bloekom, sowat 3 km buite Brits, wat hy saam met Marleen bedryf.

Daar was nie Saterdagaand ’n funksie nie.

In die hewige worsteling wat ontstaan het, het die aanvaller die oorhand gekry en Basie herhaaldelik met ’n mes gesteek.

Ek weet nog nie wat ons gaan doen nie. Ons sal seker teruggaan as Basie uit die hospitaal is, maar vir eers wil ek nie teruggaan nie.

Marleen het tussenbeide getree en die aanvaller met ’n besemstok en van die tuin- en kombuisstoele bygedam.

Haar man het teen daardie tyd hulpeloos en bloeiend op die grond gelê.

Die aanvaller het nie ’n masker gedra nie en sy motief is steeds duister vir haar, sê Marleen.

“Hy het eers gevlug nadat ek uiteindelik vir Basie tot by die huis kon sleep en die veiligheidshek agter ons toegesluit het,” sê Marleen.

Dit is die eerste keer in die twee jaar dat hulle die venue bestuur dat so iets gebeur.

“Ons het baie funksies hier saans, maar ons huur altyd ekstra veiligheidswagte,” sê Marleen.

Sy het self sukkel-sukkel haar man in die motor gelaai en gou na die hospitaal gebring.

Basie moes bloedoortappings kry en is ook geopereer om vas te stel watter interne skade aangerig is.

“Genadiglik is geen organe getref nie. Die dokters meen hy is baie gelukkig om te oorleef,” sê Marleen.

Basie word vir eers in die hoësorgeenheid behandel.

Intussen woon Marleen by haar kinders.

“Ek weet nog nie wat ons gaan doen nie. Ons sal seker teruggaan as Basie uit die hospitaal is, maar vir eers wil ek nie teruggaan nie. My kinders wil my ook nie laat gaan nie,” sê sy.

Alet van der Walt het vroeër berig die spore van nog drie mense is buite die perseel se geëlektrifiseerde omheining gevind. Die vermoede is dat dié mense buite gewag het en sou inkom sodra Basie oorrompel is.

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die polisie wag nog dat die Niemandts hul verklarings aflê sodat die saak ondersoek kan word.

Meer oor:  Brits  |  Mesaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.