Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man van Despatch betaal seuns glo vir seks-gunsies

’n 63-jarige man wat daarvan beskuldig word dat hy minderjarige seuns glo tussen R30 en R500 vir seksuele gunsies betaal het, het Vrydag sy eerste hofverskyning in die landdroshof op Uitenhage gemaak.

Die man is Donderdag weens seksuele aanranding op Despatch in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Na verneem word, kan verdere aanklagte soos seksuele voorbereiding, moontlik later bygevoeg word.

Volgens sers. Majola Nkohli, ’n polisiewoordvoerder, hou die aanklagte verband met beweerde voorvalle wat tussen 2016 en 2019 met vyf seuns tussen die ouderdomme van 13 en 18 jaar gebeur het.

Die man, wie se naam eers genoem kan word nadat hy in die hof gepleit het, is volgens een van die slagoffers se ma’s by die plaaslike DA-kantoor in Despatch op hegtenis geneem.

Maar François Greyling, wyksraadslid op Despatch, sê die man, wat in sy kantoor werk, is nie by dié kantore aangekeer nie.

“Hy is gevra om by die polisie aan te meld en hy het.

“Ek het die familie (van die slagoffer) gaan sien.

“Ek sal ook by hom (die verdagte) staan tot die hof hom skuldig bevind. Maar vir nou kan ek nie verder hierop kommentaar lewer nie, die gereg moet sy gang gaan,” het Greyling gesê.

’n 13-jarige slagoffer se ma (34) wat op Despatch woon, het oënskynlik gehelp om die vermeende pedofiel te ontmasker.

Volgens dié ma het sy sowat ’n maand gelede tydens een oggend se Bybelstudie die gevoel gekry dat sy haar seun se selfoon moet naspeur.

“Dit is waar alles begin het. Op sy WhatsApp was daar ’n kontak met ’n profielfoto van ’n man, veel ouer as my seun, en nie ’n familievriend of iemand wat ek ken nie.”

Die boodskappe wat tussen haar seun en die persoon gedeel is, het die ma yskoud gelaat.

“Die man het vir my seun gesê hy wil hom weer . . ., soos die aand in bosse. Hoe hy hom wil vashou . . .

“Die man het selfs aangebied dat my kind by hom kan intrek as ek, sy ma, hiervan uitvind.”

Die vrou se seun het aanvanklik enige verhouding met die man ontken. Sy het nogtans haar seun onmiddellik na ’n dokter geneem, asook die polisie en skool se berader benader.

Volgens haar het haar seun die afgelope paar weke oopgemaak teenoor die polisie en berader oor hoe die betrokke man orale seks met hom gepleeg het.

Die seun het blykbaar ook aangevoer dat hy R30 vir elke sessie betaal is.

Hy het ook beweer nóg seuns van Despatch word deur die man vir seksuele gunsies betaal.

Die aantygings van die 13-jarige seun het die polisie se ondersoek laat uitkring.

Minstens vyf seuns het glo reeds verklarings teen die man afgelê.

Nog ’n ma (37) van ’n 16-jarige seun erken sy wou nie aanvaar haar seun is by dié dade ingetrek nie, maar sê haar seun se gedrag het sedert verlede jaar handomkeer verander.

“My seun se houding het verander, hy het skielik begin rook, drink en sommer vir ’n ruk uit die huis getrek.

“Ek het van geen sout of water geweet nie – ek het alles eers onlangs by die polisiekantoor gehoor toe die speurder my seun vir ondervraging kom haal. Ek wou dit nie glo nie. Ek kon dit nie glo nie, hoe kan dit met my seun gebeur?”

Haar seun is blykbaar R100 vir orale seks betaal.

Die ma vermoed haar seun het met die gunsies voortgegaan om sakgeld te kry, aangesien sy ’n enkelouer is wat nie haar kinders met luukshede kan bederf nie. “Ek kan nie vir my kinders alles gee wat hulle wil hê nie. Ek kan dit eenvoudig nie bekostig nie.

“Dit is hartverskeurend om te dink so iets gebeur met jou kind en dit alles vir geld. Ek is net dankbaar die man is nou agter tralies, want ons as ouers moet saam staan om ons almal se kinders te beskerm.”

Die saak is Vrydag tot 31 Mei uitgestel. Die man bly in aanhouding.

Meer oor:  Uitenhage  |  Seksuele Aanranding  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.