Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Insleepman en beseerde ná ongeluk aangeval

WAARSKUWING: Foto's in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Die werknemer van ’n insleepdiens en ’n beseerde bestuurder is Dinsdagaand op ’n ongelukstoneel naby Benoni aangeval en beroof terwyl hulle op ’n ambulans gewag het.

Wat as hy nie daar was nie en die kliënt alleen was op die ongelukstoneel toe die gewapende rowers toegeslaan het? Of as dié kliënt ’n vrou was?

“Ek kon ten minste terugbaklei,” sê Jacques Mommen (30) van die FirstHelp-insleepdiens, wat tans in die hospitaal is nadat hy in albei sy bene gesteek is.

“Ek wou maar net ’n gestrande en beseerde kliënt help,” sê Mommen.

Jacques Mommen in die hospitaal net voordat hy Woensdagaand teater toe geneem is. Foto: Verskaf
Jacques Mommen glimlag breed nadat hy ’n bederfpakkie van sy werkgewer gekry het. Foto: Verskaf

Hy het net voor 17:00 op die ongelukstoneel by die Snakeweg-afrit op die N12-hoofweg naby Benoni aangekom.

Die voertuig het in ’n sloot langs die pad beland.

Dit was nie ’n baie ernstige ongeluk nie, maar die bestuurder se nek en rug is beseer.

“Ek het hulp ontbied, maar die kliënt behoort nie aan ’n mediese fonds nie, en ons het lank vir die staatshospitaal se ambulans gewag. Ek het by hom gebly want ek wou hom nie alleen laat nie,” sê Mommen.

Dit was later byna 20:00 en hy het die kliënt saam met hom in sy bakkie laat sit.

“Twee mans het skielik, ek neem aan uit die bosse, verskyn. Al wat ek weet, is toe ek weer sien, staan een met ’n vuurwapen aan die passasierskant en een met ’n mes aan my kant.

“Die man het my sommer deur die oop venster probeer steek. Ek het die deur oopgeskop om hom te stamp en om te kan baklei,” sê Mommen.

Hy het vanuit die voertuig na die aanvaller geskop.

Die aanvaller het tussen die skoppe deur Mommen se been vasgegryp en gesteek.

“Ek het aangehou skop met die ander been, maar hy het my twee keer bo die regterknie, en een keer aan die kant van die linkerbeen, daar by die vou, gesteek.

“Daar gaan baie dinge deur ’n ou se kop. Ek moet my kliënt, wat reeds in die ongeluk beseer is, beveilig. Op ’n ongelukstoneel kom sy veiligheid eerste.

“En ek het twee kindertjies van drie jaar en agt maande. Ek moet vir hulle sorg.”

Terwyl hy geslaan en geskop het, het die ander aanvaller die kliënt se selfoon en ander besittings gegryp en die twee rowers het weggehardloop.

Mommen het uit die voertuig geklim – en op die pad neergesak.

“My bene het net ingegee. Ek het tóé eers besef ek bloei. Ek het hulp ontbied. Tóé was die ambulans en hulp vinnig daar,” spot hy.

Die provinsiale ambulans het intussen ook opgedaag en die kliënt hospitaal toe geneem.

Mommen het ook verskeie ligter snywonde aan sy arms opgedoen.

Die dokters was bang dat die diep snywonde aan sy bene skade aan die been aangerig het en Mommen is Woensdagaand teater toe geneem om seker te maak dat daar nie krake in die been self is nie. Die wonde is skoongemaak en die gapende wonde geheg.

Die eerste wat hy Donderdag gedoen het nadat die narkose heeltemal uitgewerk het, was om te kyk of sy bene nog “loop”.

Jacques Mommen van die FirstHelp-insleepdiens se wonde word op die toneel op die N12-hoofweg behandel. Foto: Verskaf
Jacques Mommen van die FirstHelp-insleepdiens het eers besef hy bloei toe hy uit die bakkie klim. Foto: Verskaf
Jacques Mommen in die ambulans op pad hospitaal toe. Foto: Verskaf
Selfs nadat dit verbind en behandel is, het die wonde aan Jacques Mommen se bene bly bloei.Foto: Verskaf
Jacques Mommen het besef hy moet hulp ontbied toe hy bloeiend op die pad neersak.Foto: Verskaf

Meer oor:  Benoni  |  Aangeval  |  Beseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.