Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas ná bakleiery langs pad

’n Man (29) van Wolseley in die Boland is in hegtenis geneem ná ’n padwoedevoorval verlede Saterdag.

’n Skermgreep van waar die man wat in hegtenis geneem is, op die ander man sit met sy hand in die lug waarna hy hom hard deur die gesig klap. Foto: Skermgreep

Die inhegtenisneming het gevolg nadat ’n video sedert Maandag op sosiale media versprei is waarin ’n mens kan sien hoe die man op ’n 26-jarige man se rug sit.

Die een man vloek en skreeu op die man wat met sy gesig in die grond lê. Dan kan ’n mens sien hoe die man sy hemp oplig en aan omstanders wat hom probeer kalmeer, sê die man op wie hy sit, het hom met ’n mes gesteek. ’n Rooi kol, vermoedelik bloed, kan ook vlugtig op die man se linkersy gesien word.

Hy lig dan die man (op wie hy sit) se kop op, vloek hom weer, “skreeu, jy steek my met ’n mes,” en slaan die man dan hard teen die kop.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die 29-jarige man verskyn Vrydag in die landdroshof in Wolseley op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Van Wyk het bevestig dat die man Donderdag in hegtenis geneem is.

Intussen het die broer van die man wat in die video aangerand is, gesê die man is steeds in die hospitaal. Hy het bygevoeg sy broer en sy vermeende aanvaller is albei Saterdag ná die voorval na die Ceres-hospitaal geneem.

“My broer is na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, maar is gister terug na die Ceres-hospitaal waar sy toestand nou gemonitor word,” het hy gesê.

Intussen het ’n ooggetuie, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, gesê die voorval het ontstaan weens padwoede.

Intussen het ’n ooggetuie, wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, gesê die voorval het ontstaan weens padwoede.

“My voertuig was langs die pad terwyl ek besig was om met my hommeltuig te werk,” sê die getuie.

“Die eienaar van die Ford Ranger-bakkie, ’n buurtwaglid wat van diens af was, het toevallig verbygery en stilgehou om te gesels.”

Volgens die getuie het die man in die linkerbaan geparkeer. “Sekondes daarna kom ’n wit Toyota Tazz van die ander rigting af en stop neus-aan-neus met die Ford. Daar is woorde gewissel en die Ford se eienaar het die voertuig geskuif.

“Ek het nie presies gesien wat toe gebeur het nie, want ek het op my hommeltuig gefokus. Maar toe ek weer my kop draai, sien ek die eienaar van die Tazz met ’n mes in sy hand, en bloed stroom uit die eienaar van die Ford se lyf.”

Kort daarna het ander voertuie ook stilgehou en die twee mans uitmekaar probeer kry.

Volgens die bron is dit nie moontlik om te sê wie dit begin het nie. “Ek moes toe my hommeltuig grond toe bring en dadelik bel vir hulp. Die twee mans het mekaar toe gepak.”

Kort daarna het ander voertuie ook stilgehou en die twee mans uitmekaar probeer kry. “Ek het self die eienaar van die Tazz sowat 7 m verder weggesleep om hulle uit mekaar te kry. Daar het toe ander buurtwaglede stilgehou en gehelp om hulle uitmekaar te hou.”

Maar dit was nie suksesvol nie en die eienaar van die Ford het, ondanks sy beserings, die eienaar van die Tazz weer geslaan. “Ek het geen kennis van wanneer die video geneem is nie. Maar ons het alles probeer om hulle weg te hou van mekaar.”

Die getuie beweer gerugte dat dit tydens ’n padblokkade gebeur het, is onwaar.

Die broer van die man wat op die video aangerand word, het by navraag gesê die enigste mense wat sal kan sê of die ander man wel met ’n mes gesteek is, is sy broer en die man wat in hegtenis geneem is.

Intussen is die man wat in hegtenis geneem is, ook uit die buurtwag geskors.

Meer oor:  Wolseley  |  Padwoede  |  Padveiligheid  |  Inhegtenisneming  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.