Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas ná diereliefhebber se raaiselagtige dood
Annel Snyman Foto: Verskaf

Die geliefde roofdierliefhebber van Bela-Bela in Limpopo wat in September in KwaZulu-Natal in raaiselagtige omstandighede dood is, se broer was Donderdag saam met die polisie toe ’n man in verband met sy suster se moord buite Bela-Bela in hegtenis geneem is.

Annel Snyman (38) van die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela is op Maandagaand 9 September gekry waar sy aan ’n rekverband aan die haak van ’n badkamerdeur in ’n hotelkamer by die Cayley Mountain Resort in die Drakensberge in KwaZulu-Natal gehang het.

Chris Luus, haar kêrel, het op haar lyk afgekom en gesê hy vermoed sy het haarself om die lewe gebring.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê ’n 44-jarige man is Donderdag in sy huis op ’n hoewe buite Bela-Bela in hegtenis geneem.

Die man se naam mag nie bekend gemaak word voordat hy in die landdroshof in Weenen verskyn nie. Die polisie het aanvanklik slegs ’n geregtelike doodsondersoek gedoen, maar dit is verander na ’n moordsaak.

Annel Snyman (38) by een van haar leeus by die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela in Limpopo.Foto: Verskaf

Mbele kon Donderdagmiddag nie sê of die man moontlik al Vrydag in die hof op ’n aanklag van moord sal verskyn nie.

Nardus Snyman, Annel se broer, sê hy is Donderdag saam met die polisie na die hoewe waar die man agter in ’n vangwa gelaai is.

Die man, wat bekend is aan die familie, het niks aan Snyman gesê nie.

“Woorde was nie nodig nie. Dit was baie sleg vir my, maar ek wil net hê dat die reg sy gang gaan en geregtigheid moet geskied,” sê Snyman.

Volgens hom was daar glo merke aan sy suster se nek wat gelyk het asof dit handmerke kon wees.

Hy het ná sy suster se dood volgehou dat sy nie haarself om die lewe sou bring nie. Baie van Snyman se vriende het ook gesê sy sou nie haarself om die lewe bring nie.

Luus het na Snyman se dood aan Netwerk24 gesê hy moet sielkundige berading kry weens die skok van haar dood.

“Ek het bitter seer en daar gaan nie ’n sekonde van ’n dag of nag verby dat ek nie aan haar dink of huil oor haar nie. My hart is stukkend. Annel was my alles en ek het haar verloor.”

Die lykskouing wat deur die staat gedoen is, het bevind dat versmoring die oorsaak van haar dood is.

Die Snyman-familie het ’n tweede private lykskouing laat doen. “Ons het gevoel daar is baie goed wat nie reg was met die eerste lykskouing nie en ons wou seker maak.”

Snyman sê “dit is ‘n emosionele saak”.

Annel Snyman het die afgelope twaalf jaar aan die outo-immuunsiekte lupus gely. Haar familie sê sy het ’n moedige stryd teen die siekte gestry.

Meer oor:  Annel Snyman  |  Chris Luus  |  Loebies-Roofdierpark  |  Bela-Bela  |  Diereliefhebber  |  Dood  |  Man Vas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.