Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas ná huisroof in Tulbagh, nog gevalle bekyk

’n Man is in hegtenis geneem wat moontlik verbind kan word met ’n vlaag huisrowe in die Wynland en omliggende gebied.

Die Baby Browning-pistool waarop die polisie beslag gelê het nadat hulle ’n motor in ’n padblokkade naby die Paarl voorgekeer het.

Die man is deur die polisie van die Paarl en lede van die Agter-Paarl-plaaswag in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere wat verbind word met ’n huisrooftog wat Donderdagaand op ’n plaas in die Tulbagh-omgewing plaasgevind het.

Na verneem word, is ’n gesin in hul huis op die Saronsberg-plaas beroof. Die Saronsberg Kelder het die voorval by navraag bevestig, maar wou nie meer daaroor sê nie.

Volgens inligting het die voorval omstreeks 20:00 plaasgevind. Niemand is beseer nie, maar ’n skoot is in die huis afgevuur. Die polisie en plaaswag was kort daarna op die toneel. Die polisie in die Paarl het toe ’n voertuig voorgekeer en ’n man is in hegtenis geneem. Van die ander insittendes het weggehardloop.

Dit is die derde aanval van sy soort binne ’n week.

’n Man is verlede Saterdagaand by die De Zeven-gastehuis in Banhoek, Stellenbosch, geskiet toe vyf gewapende aanvallers die aand ’n paartjie in die oop sitkamergedeelte van die gastehuis oorval het.

Van die items wat in die motor gevind is wat in ’n padblokkade naby die Paarl voorgekeer is.

Dit was skaars 24 uur nadat drie vroue en ’n man by die Amberg-gasteplaas in die Paarl oorval is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê by navraag alle moontlikhede word ondersoek oor of die man in die Saronsberg-voorval ook met dié rooftogte verbind kan word.

Luidens ’n polisieverklaring het die polisie in die Paarl en die Agter-Paarl-plaaswaglede ’n deursoekpunt vir motors op die R45-pad beman toe hulle ’n silwer Chevrolet-motor met vyf insittendes afgetrek het.

Klapmusse en ander items wat in die motor gevind is wat in ’n padblokkade naby die Paarl voorgekeer is.

Hulle het die bestuurder gevra om die voertuig se kattebak oop te maak, waarop die ander vier mans uit die motor gespring en weggehardloop het.

Daar is op klapmusse, handskoene en ’n Baby Browning-pistool met ’n magasyn en vier patrone, asook verskeie soorte elektroniese toerusting in die motor afgekom.

Daar is vasgestel van die items behoort aan ’n plaaseienaar in die Tulbagh-omgewing wat vroeër die aand beroof is.

Die bestuurder van die motor, ’n 32-jarige man van Kuilsrivier, is in hegtenis geneem. Die ondersoek duur voort en die ander mans is nog nie aangekeer nie.

Meer oor:  Tulbagh  |  Huisroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.