Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas ná moord op bootbouer van St. Francisbaai
Duncan Lethbridge Foto: Facebook

Die polisie in St. Francisbaai in die Oos-Kaap het Maandag ’n man aangekeer wat na bewering vir die moord op Duncan Lethbridge (78) verantwoordelik is.

Lethbridge, ’n bekende katamaranbouer van die dorp, is Donderdagaand ná ’n rooftog in sy huis dood.

Lethbridge was die stigter van St. Francis Marine en was tot sy aftrede in April aan die stuur van sake van dié maatskappy.

Lethbridge, sy vrou, Cathy (76), en hul 53-jarige huishulp is deur twee gewapende rowers vasgebind en aangerand.

Al drie se monde is met kleefband toegeplak.

Lethbridge het na verneem word, versmoor weens ’n lap wat in sy mond gesit is voordat dit toegeplak is.

Brig. John Lebok, Humansdorp se groepbevelvoerder, het die speurders van St. Francisbaai geloof vir die arrestasie van die 35-jarige verdagte. Die verdagte is Maandag om 15:40 in Bureau-straat, Humansdorp, in hegtenis geneem.

Lebok sê die inhegtenisneming kom nadat die polisie leidrade opgevolg het en sonder ophou gewerk het.

Die verdagte sal Woensdag op aanklagte van huisroof en moord in die landdroshof in Humansdorp verskyn.

Luidens die polisie kan verdere arrestasies binnekort verwag word.

Die aanvallers het Donderdag omstreeks 17:00 op die egpaar se huis in Sardinia-weg toegeslaan. Die mans het eers die huiswerker, wat buite was, gekonfronteer. Hulle het haar by die huis ingedwing en vasgebind. Hierna is die egpaar, wat ook in die huis was, ook vasgebind en aangerand.

Die verdagtes het die sleutel van die kluis geëis en een van die vroue gedwing om dit oop te sluit.

Hulle het ’n onbekende bedrag geld asook ander waardevolle artikels gebuit en toe weggehardloop.

Die huiswerker kon teen 19:00 daarin slaag om by die bure hulp te ontbied.

Lethbridge is in die sitkamer aangetref waar hy met sy gesig na onder gelê het. Sy hande was steeds vasgebind en sy mond toegeplak. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.

Meer oor:  Duncan Lethbridge  |  St. Francisbaai  |  Verdagte  |  Boothouer  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.