
’n Polisielid wys waar ’n pakkie met pille op die motor se enjin gevind is. Foto: SAPD
Die polisie het ’n vermeende dwelmhandelaar in Kgotsong, Bothaville, in hegtenis geneem nadat hulle ’n wenk uit die gemeenskap ontvang het.
Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, sê die polisie het die verdagte se huis deursoek, maar niks gekry nie.
Twee motors buite die huis is ook deursoek. In die een, ’n Opel Corsa, is dwelms in ’n pakkie in die enjinkompartement gevind.
Die 32-jarige eienaar van die motor is in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die landdroshof in Bothaville verskyn.
Die dwelmmiddel, bekend as Star-tablette, is volgens die polisie R98 000 werd. Die polisie het ook op kontant beslag gelê.