Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas wat glo sê Evoque is 'gekaap'

Die 33-jarige eienaar van ’n luukse Range Rover Evoque van sowat R1,1 miljoen is in hegtenis geneem nadat die polisie in Bellville ná ’n ondersoek agtergekom het dat hy na bewering oor die voertuig se kaping gejok het.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die man het aangevoer dat sy voertuig op 8 Julie vanjaar in Wynberg, Kaapstad, gekaap is.

Die eienaar het in die verklaring wat hy toe by die polisie afgelê het, gesê dat hy deur drie mans gekaap is.

Van Wyk sê die voertuig is op 10 Oktober, drie maande nadat dit glo gekaap is, in Delft opgespoor. Drie mans wat in besit van die voertuig was, is in hegtenis geneem.

Maar dit is volgens Van Wyk hier waar die speurders van Bellville snuf in die neus gekry het.

Hy sê dat die drie mans wat aanvanklik in hegtenis geneem is, ná deeglike ondervraging drie ander mans aan die speurders uitgewys het. Die drie mans wat uitgewys is, is glo die drie by wie die eerste drie mans die voertuig gekry het.

evoque
Foto ter illustrasie.

“Daar is nou ses mense in hegtenis.”

Van Wyk sê dat die saak teen die eerste drie mans van Delft, wat eerste in hegtenis geneem is, met hul eerste verskyning in die landdroshof in Bellville teruggetrek is.

Die speurders was volgens Van Wyk egter nog nie tevrede met die verloop van die ondersoek nie.

Hy sê dat ’n bekentenis gedoen is en daar is volgens hom ook uitwysings gedoen. Die speurders het na beeldmateriaal en foto’s van kringtelevisie gekyk en ook die selfoonrekords van die klaer en die laaste drie mans wat in hegtenis geneem is, bekom.

“Uit die inligting wat van die bewysstukke bekom is, was dit vir hulle duidelik dat die klaer ook betrokke is en dat hy ’n valse verklaring by die Wynberg-polisie afgelê het dat sy voertuig gekaap is.”

Die klaer is verlede week in hegtenis geneem en het Maandag in die landdroshof in Wynberg op aanklagte van meineed en regsverydeling verskyn.

Die saak is tot 1 Desember uitgestel.

Van Wyk sê dat die Bellville-saak van die ander drie beskuldigdes en die saak van die klaer gesentraliseer sal word en na die Wynberg-landdroshof oorgeplaas sal word.

Meer oor:  Wynberg  |  Belville  |  Kaapstad  |  Kaping  |  Meineed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.