Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man vas wat plaaswerkers treiter

’n Jong man wat glo plaasbewoners in Bainsvlei, buite Bloemfontein, vir twee weke lank geterroriseer het, het vandeesweek op ses verskillende aanklagte in die landdroshof verskyn.

Mbuyiselo Zachariah Abrahams (24), ’n plaaswerker, is Dinsdag aangekeer nadat hy na bewering ’n medewerker twee keer gesteek het. Hy het glo ook sy vriendin vermoor en hul kamer aan die brand gesteek.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê Abrahams het Woensdag op aanklagte van moord, brandstigting, huisbraak, diefstal, aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot moord in die hof verskyn.

Sy verhoor is tot 2 Oktober uitgestel en hy bly tot dan in aanhouding.

Dit kom ná ’n rits misdade wat op 7 September begin het toe hy na bewering vir Enoch Phinithi, ’n mede-plaaswerker, op die plaas Swartberg met ’n spies in die wang gesteek het.

Volgens Covane het die plaaseienaar omstreeks 21:00 die polisie gebel omdat Abrahams en Phinithi glo baklei het.

Abrahams het gevlug, maar het later die aand teruggekom en Phinithi met die spies gesteek.

Hy het dieselfde aand ook ’n kamer aan die brand gesteek en met die polisie se aankoms later die oggend op die toneel, het hulle op Abrahams se vriendin se lyk afgekom.

Die vrou is nie ver van die gebrande kamer gekry nie en sy het ’n diep wond aan die voorkop gehad.

Die polisie het ’n saak van brandstigting en moord aanhangig gemaak, maar Phinithi wou nie ’n klag teen Abrahams aanhangig maak nie.

Hy het dit toe egter wel later gedoen.

’n Week later het Abrahams glo weer toegeslaan toe hy Phinithi by ’n winkelsentrum in Langenhovenpark met ’n mes in die nek gesteek het.

Hy het gevlug en die polisie het ’n saak van poging tot moord oopgemaak.

Twee dae later het Abrahams glo by ’n huis op die Swartberg-plaas ingebreek en ’n duvet, kombers en ’n paraffienstoof gesteel.

Speurders van die Bainsvlei-polisiekantoor het Abrahams uiteindelik op 17 September aangekeer toe hulle hom in ’n oop ruimte in Langenhovenpark opgespoor het.

Meer oor:  Bainsvlei  |  Bloemfontein  |  Misdaad  |  Teistering  |  Plaaswerker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.