’n Man (37) verskyn Donderdag in die hof in Fouriesburg nadat die polisie wol van R8 miljoen wat vermoedelik gesteel is, in sy besit gevind het.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die man sal van die besit van gesteelde goedere aangekla word.
“Hy is Dinsdagaand op die R711-roete in Fouriesburg aangekeer nadat die polisie inligting opgevolg het. Ons het verneem ’n vragmotor vol skaapwol is van Lesotho op pad en dat die bestuurder nie die nodige dokumente vir die besit daarvan het nie.
“Nadat hy voorgekeer is, het die polisie sy vragmotor deurgesoek en op die wol afgekom.”
Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, het die polisiebeamptes met die inhegtenisneming gelukgewens en die gemeenskap vir hul samewerking bedank.