Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Man veg verbete’ teen moordenaars in Pta-buurt

Dit lyk of Edwin Miller Dinsdag verbete teen die aanvaller(s) gebaklei het toe hy in hul huis in Rietondale, Pretoria, oorval en vermoor is.

Volgens die polisie het hy wonde aan sy arms en bolyf gehad waarvan sommige ooreenstem daarmee dat hy homself waarskynlik verdedig het.

“Uit voorlopige ondersoeke blyk dit dat die oorledene probeer het om homself tydens die aanval te verdedig,” sê kapt. Anton Breedt, polisiewoordvoerder.

Elsabé Weyers, voorsitter van die Moot-area se gemeenskapspolisiëringsforum, sê hulle het gehoor die aanval op Miller was baie gewelddadig en dat hy verskeie kere met iets soos ’n mes gesteek en met ’n voorwerp oor die kop geslaan is.

“Dit lyk beslis of hy terugbaklei het,” sê sy.

Miller (32) se 64-jarige ma het sy lyk Dinsdagaand om en by 18:00 in die gang gekry toe sy van die werk af gekom het.

Breedt sê die agterdeur was oopgebreek en kontant, juweliersware en ’n skootrekenaar is vermis.

Terwyl inwoners wonder hoe die aanvallers in die erf kon kom, is die vermoede dat hulle daarna die agterdeur met ’n graaf oopgebreek het.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord en huisbraak, sê hy.

Die huis waarin Miller en sy ma bly, het soos die meeste ander in die rustige cul de sac ’n hoë palissadeheining met geëlektrifiseerde draad bo-op.

Voor die deure en vensters is dik diefwering.

Terwyl inwoners wonder hoe die aanvallers in die erf kon kom, is die vermoede dat hulle daarna die agterdeur met ’n graaf oopgebreek het.

Miller was in daardie stadium tuis. Hy het blykbaar skofte gewerk en dit blyk luidens bronne of hy besig was om aan te trek toe hy deur die aanvallers gekonfronteer is.

Dit het vermoedelik Dinsdagmiddag gebeur omdat rigor mortis reeds ingetree het toe sy lyk daardie aand gevind is, sê Weyers.

Inwoners van die cul de sac het later gesê hulle het eers van die voorval bewus geword toe die polisievoertuie voor die huis intrek.

Die ma is glo intussen na een van haar ander kinders.

Weyers sê die woonbuurt was nie te lank gelede nie nog ’n tipiese rustige en merendeels misdaadvrye gebied.

Daar is egter reeds ’n ruk probleme met die Melgisedek-gebou nie te ver van Rietondale af nie, waar verskeie mense, insluitend dwelmgebruikers, onwettig hul intrek geneem het.

“Ná die xenofobiese aanvalle in die stad het baie mense ook hier na ons omgewing gevlug, en sedertdien het misdaad in ons omgewing begin toeneem. Dit is my persoonlike opinie, maar ons GPF-statistieke bevestig dit,” sê sy.

* Breedt sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en het ’n beroep op mense gedoen om die polisie se noodnommer 10111 te skakel as hulle enige inligting oor die voorval het.

Meer oor:  Edwin Miller  |  Rietondale  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.