
Lynette Volschenk (32). Foto: Facebook
Son
Die 24-jarige man wat Donderdag in hegtenis geneem is vir die moord op Lynette Volschenk (32), wie se opgekapte lyk in swart sakke in 'n woonstel in Belville gekry is, sal eers Maandag in die hof verskyn.
Die verdagte het op die negende verdieping van die bekende Seesig-woonstelblok in Loevenstein gewoon, en Volschenk op die tiende.

Die woonstel op die tiende verdieping waar Volschenk glo vermoor is. Foto: Ané van Zyl
Volgens 'n inwoner, wat nie haar naam genoem wou hê nie, het Volschenk se kollegas haar Donderdagoggend by haar woonstel gaan soek nadat sy nie by die werk opgedaag het nie.
Volschenk het vir ’n ingenieursfirma gewerk.
'n Bloedspoor van haar woonstel het glo na dié van die verdagte gelei.
Haar lyk is in stukke in swartsakke, na bewering in sy woonstel, gevind.
Volgens kapt. Johnathan Blanckenberg, woordvoerder van die Bellville polisie, is hulle nog besig met die ondersoek en sal die verdagte, wat ook Donderdag aangekeer is, na verwagtig eers Maandag in die hof verskyn.
Dit is nie bekend waar hy aangehou word nie.
Daar word beweer dat hy haar vermoor het, waarna hy haar lyk in stukke opgesny het.