’n Man is vroeg Sondagoggend vermoedelik vir sy selfoon in Port Elizabeth met ’n mes doodgesteek.
Die moord op Steven Branders (52) is op kringtelevisie vasgevang. Daarop kan gesien word hoe die aanvallers iets uit sy hand gryp, in ’n motor spring en wegjaag, het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens haar het Branders, wat in Gelvandale woon, Sondag omstreeks 06:30 van ’n winkel in Hauptweg, Sidwell, gestap toe twee mans hom genader het.
“Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe Branders die aanvallers probeer afweer, maar hy is oorrompel en op die grond vasgedruk. Hy is verskeie kere gesteek,” sê Naidu.

Die motor waarin Steven Branders se twee aanvaller Sondagoggend in Sidwell weggejaag het. Foto: Verskaf

’n Syaansig van die betrokke motor. Foto: Verskaf
Die twee aanvallers het hierna by ’n motor ingeklim wat in trurat na hulle aangery gekom het.
Volgens Naidu is geen nommerplaat van die motor op die beeldmateriaal te sien nie. Die motor lyk soos ’n Mazda Midge of Ford met ’n stamp aan die voorste buffer en ’n stukkende agterruit wat met plastiek toegemaak is.
Die polisie het Branders dood op die sypaadjie aangetref.
Niemand was teen Maandagoggend nog aangekeer nie.
Naidu het gesê op die beeldmateriaal kan gesien word hoe verskeie motors tydens die aanval verbyry. Sy doen ’n beroep op enige ooggetuies om navore te kom.
Enigeen met inligting kan speur-ao. Errol Kleinhans by 083 243 4567 of 041 401 1061 bel.