Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man wat kind glo doodry, aangeval, 24 keer gesteek

’n Zimbabwiese man is met veelvuldige steekwonde onder polisiebewaking in ’n plaaslike hospitaal opgeneem nadat hy Sondag deur ’n skare woedende inwoners in Waterloo naby Verulam, KwaZulu-Natal, aangeval is. Hy het na bewering ’n seun in die buurt met sy bakkie doodgery.

Die bedekte lyk van die seun van ongeveer tien jaar oud. Foto: Prem Balram

“Die voorval het Sondag omstreeks 17:30 gebeur nadat ’n seun van ongeveer tien jaar oud vroeër die middag deur die man raakgery is. Die seun is deur paramedici op die toneel dood verklaar,” het kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, Maandag aan Netwerk24 gesê.

’n Groot skare inwoners het Sondag op die toneel saamgedrom. Foto: Prem Balram

Volgens Mbele het ’n skare inwoners ná die ongeluk op die man afgestorm, hom uit sy bakkie geruk en toe herhaaldelik met dele van ’n stukkende glasbottel gesteek. “Die polisie en lede van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy moes tussenbeide tree om die situasie te ontlont. Die man is in ’n ernstige toestand na ’n plaaslike hospitaal geneem en is tans onder polisiebewaking. Hy sal op ’n aanklag van strafbare manslag in die hof verskyn sodra hy voldoende van sy beserings herstel het,” het Mbele gesê.

Sy het gemeenskaplede weer gewaarsku om nie eie reg te neem nie en het die geweld veroordeel.

“Die polisie steun op inligting oor misdaad wat van die gemeenskap af kom. Mense wat normaalweg nie die wet sou oortree nie wou, in ’n geval soos dié een, ’n standpunt inneem teen wetteloosheid in hul omgewing, maar kan nie eie reg gebruik nie. Die polisie kan nie toelaat dat ’n gemeenskap namens of in die plek van wetstoepassers optree nie. Die saak word ondersoek en die skuldiges sal aangekla word,” het Mbele gesê.

“ ’n Skare van meer as honderd mense het die man aangeval,” het Prem Balram, woordvoerder van Reaction Unit South Africa (Rusa), ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy, gesê.

Volgens Balram is die man meer as 24 keer oor sy hele lyf gesteek. ’n Leë bierbottel is in die bakkie gevind. “Die man het glo roekeloos bestuur. Van die inwoners het gekla dat hulle dié man gereeld deur die strate sien jaag het,” het Balram gesê.

Die bakkie van die man waarmee die seun glo doodgery is. Foto: Prem Balram
’n Leë bierbottel wat in die bakkie gevind is. Foto: Prem Balram
Meer oor:  Verulam  |  Kwazulu-Natal  |  Aanval  |  Doodgery  |  Messteek  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.