Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man wat kind gryp hou nie verband met mensehandel

Die polisie het Dinsdag gesê die voorval waar ’n man in hegtenis geneem is nadat hy ’n kind verlede week by ’n restaurant in Florida aan die Wes-Rand wou gryp, hou nie verband met mensehandel nie.

Naseem Slamang het Maandag in die landdroshof in Roodepoort op aanklagte van aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging tot ontvoering verskyn. Hy bly in aanhouding en sal weer Donderdag in die hof verskyn.

Die voorval is verlede Donderdag op video verfilm en het ’n opskudding op sosiale media veroorsaak. In die video kan gesien word hoe twee vroue en ’n kind by ’n tafel op die stoep van ’n restaurant sit. ’n Man spring skielik oor die reling en gryp na die kind. Een van die vroue probeer die kind uit die man se greep kry, waarna Dishal Sooku, die restauranteienaar, hom beetkry en op die grond vasdruk. Hy word dan aan veiligheidswagte oorhandig.

In nog ’n video, wat op sosiale media versprei is, lê die verdagte geboei op die vloer kort ná die voorval. Hy vertel aan omstanders dat hy en ander vir ’n sindikaat werk en kinders vir dwelms ruil.

“Dit is nie ’n geval van mensehandel nie,” het brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, Dinsdag luidens ’n verklaring gesê.

“ ’n Ontvoering is wanneer ’n persoon teen sy of haar wil verwyder word en die ontvoerders ’n losprys eis. ’n Ontvoering is ook wanneer sodanige persoon uit die toesig van sy of haar ouers verwyder word vir ’n huwelik of seksuele omgang,” het hy gesê.

Volgens Naidoo kom mensehandel nie so gereeld in Suid-Afrika voor soos in ander lande nie. Hy erken egter dat jong mense, veral vroue, van hul ouerhuise weggelok word met die belofte van winsgewende werk, net om hulself later in die bedryf van sekshandel te bevind.

“Misdade soos ontvoering word onder verskillende omstandighede gepleeg en die motivering verskil. Mense kan ook as vermis aangemeld word na aanleiding van ’n misdaad wat moontlik gepleeg is soos ’n moord, ’n ontvoering of dat die vermiste persoon net eenvoudig van die huis af weggeloop het. Die situasie moet onmiddellik by die polisie aangemeld word en daar is geen wagtydperk daarvoor nie,” het Naidoo gesê.

Meer oor:  Naseem Slamang  |  Randburg  |  Landdroshof  |  Mensehandel  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.