Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Man weet ‘niks’ van vermoorde ma, baba
Chantelle Ash en Tasneem. Foto: Facebook/ChantelleAsh

“Ek bel net om te groet, ek gaan terug na my eie land toe.”

Dit is wat ’n man wat deur die polisie gesoek word om te help in hul ondersoek na die moorde op ’n babameisie en haar ma op Donderdag 13 Januarie buite Mokopane, glo aan die vermoorde vrou se ma in ’n telefoonoproep gesê het.

Annie Ash van Pretoria sê die man van Bangladesj het aan haar gesê hy “weet niks” van haar dogter, Chantelle (20), en haar agt maande oue baba, Tasneem, nie.

Werkers by die Maponya-lodge in die Masodi-nedersetting aan die R518 buite Mokopane het afgekom op Chantelle en Tasneem se lyke wat reeds begin ontbind het.

Lees ook: Ma, baba in kamer by lodge vermoor

Die ma en baba se hande was agter hulle rûe vasgebind. Hulle is vermoedelik reeds die vorige dag in ’n kamer by die lodge verwurg.

“Ek probeer sterk wees, maar binne-in my is ek besig om uitmekaar te val,” het ’n hartseer Ash Dinsdag aan Netwerk24 gesê. Tasneem sou die afgelope Sondag nege maande oud geword het.

Chantelle, Tasneem en ’n man, wat nie sy identiteit aan die ontvangsdame van die Maponya-lodge wou gee nie, het verlede Dinsdag omstreeks 19:00 ’n kamer by die lodge gehuur.

Tasneem Ash Foto: Facebook/ChantelleAsh
Chantelle Ash (20) en haar baba, Tasneem, is verlede week buite Mokopane vermoor. Foto: Facebook/ChantelleAsh

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê hulle is glo deur ’n grys motor by die hek van die lodge afgelaai.

Die werkers by die lodge het Woensdag niemand by die kamer gesien nie en aangeneem die mense is weg, sê Ngoepe. Die werkers het op die grutoneel afgekom toe hulle die kamer wou gaan skoonmaak.

Ash het aan Netwerk24 gesê sy was histeries toe die polisie haar Donderdagmiddag bel om te sê haar dogter en kleindogter se lyke is gekry.

“Ek het gebid en gevra: ‘Here, asseblief, moenie dat dit my kinders wees nie’.”

Sy sê sy het op Donderdag 7 Januarie die laaste keer met haar dogter oor die telefoon gepraat.

“Sy het nie gesê dat iets fout is nie en ek het nie onraad vermoed nie. Ek het gesukkel om haar in die dae voor haar dood in die hande te kry, maar ek het gedink sy het dalk nie geld om my te bel of ’n boodskap te stuur nie,” sê Ash.

Die man van Bangladesj waarna die polisie soek om hulle in hul ondersoek te help. Foto: Verskaf

Chantelle en Tasneem het nog op Sondag 27 Desember by Ash in Pretoria gekuier. Dit was die laaste keer dat sy hulle lewend gesien het.

Ash moes Vrydag hul lyke in Mokopane gaan uitken. “Tasneem het gelyk of sy slaap, maar ek het gesukkel om Chantelle uit te ken soos wat sy gelyk het.”

Sy sê haar dogter was ’n grapmaker en terggees en het daarvan gehou om “mense se siele uit te trek”.

“Sy was ’n baie goeie ma vir Tasneem, al was sy self nog jonk.

“Hulle was die lig in my lewe. Ek glo geregtigheid sal geskied en dat die polisie die skuldige/s in hegtenis sal neem.”

Chantelle en Tasneem sal in Pretoria begrawe word. Presiese reëlings is nog nie bekend nie.

Die polisie soek nog na die moordenaar/s. Enigiemand met inligting kan lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.

Die kamer by die Maponya-lodge waar ’n ma en haar babadogter vermoor is. Foto: SAPD
Tasneem Ash Foto: Facebook/ChantelleAsh

Meer oor:  Moord  |  Annie Ash
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.