Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Mans huil ‘soos babas’ ná hulle aangerande 6-jarige sien

Groot mans het “soos babas” gehuil toe die kombers van ’n sesjarige meisietjie afgetrek word.

Sy het bewegingloos gelê, albei haar oë – “eintlik haar hele gesiggie” – so dik geswel en flenters geslaan, hulle het gedink sy is dood.

“My hart was stukkend toe ek haar so sien. Ek het nie gedink dis moontlik dat sy dit gaan oorleef nie,” vertel een van die bure.

Dit was die toneel nadat lede van die Alberton-polisie, luidens bronne, eers die kind se pa met geweld van haar moes afruk waar hy glo wydsbeen oor haar gestaan en haar met die vuiste “soos ’n bokssak” geslaan het.

Die pa het toe glo die polisielede aangeval en is eers in ’n vangwa toegesluit, nadat byna al die mans van die buurt hom beetgepak het.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en aanranding op polisielede teen die pa.

My hart was stukkend toe ek haar so sien. Ek het nie gedink dis moontlik dat sy dit gaan oorleef nie.

Die polisie het die aanklagte namens die meisie aanhangig gemaak, omdat die swanger ma nie ’n saak teen die pa wou maak nie.

Bronne vermoed dat sy te bang was, nadat sy ook aangerand is en die pa haar glo in die maag geskop het.

Die pa is later vrygelaat, hangende ’n verdere ondersoek.

Masondo sê die kind is intussen uit die hospitaal ontslaan en sy en haar ma is na ’n plek van veiligheid geneem.

Die voorval het so twee naweke gelede gebeur.

Inwoners van die buurt vertel hulle het daardie aand die ma op straat – glo “poedelkaal en met haar een oog heeltemal toegeswel” – gevind.

Sy het vertel haar man het haar geslaan, sy het weghardloop en iemand moet die polisie bel.

Nie lank daarna nie, het die polisie opgedaag.

Talle van die inwoners het buite gestaan, juis om te kyk of alles veilig is.

“Maar ek dink nie iemand van ons het in daardie stadium geweet die klein dogtertjie is saam met die pa nie,” vertel ’n vrou.

Die polisie is na die woning.

Die bure het ’n harde slag gehoor en toe glas wat breek.

“Ons het later gehoor die polisie moes die deur afskop,” vertel hulle.

Maar ek dink nie iemand van ons het in daardie stadium geweet die klein dogtertjie is saam met die pa nie.

Dit blyk dat toe die eerste twee polisielede na die huis gegaan het, hulle besef het die man rand iemand aan.

Toe hulle instorm en die pa gryp, het hy blykbaar losgeruk, ’n mikrogolfoond gegryp en dit na die naaste polisielid gegooi.

Van die mense het nader gehardloop. Die polisieman was deurmekaar en sy kop het gebloei.

“Daar was ook ’n helse knop op sy kop. Van ons het hom probeer help en die nooddienste gebel, terwyl van die mans (inwoners) die ander polisieman gaan help het.”

Ook die tweede polisieman is glo met die mikrogolfoond gegooi.

“Toe sak die buurt se mans op die pa toe. Hulle was bo-op hom, hulle het hom opgetel, dit was ’n helse fight, maar die ou val nie. Hy kom nie grond toe nie.

“Nog polisie het aangekom – hy het een van hulle se rib afgeskop.

“Toe hulle hom uiteindelik in die vangwa kry, toe spring hy weer uit. Hulle het die tweede keer die vangwa se deur vinnig genoeg toegekry,” vertel die inwoners.

Van hulle is intussen die kamer in waar die man se dogtertjie gelê. Daar was ’n kombers oor haar gegooi “soos wanneer iemand dood is”.

Iemand het die kombers afgetrek.

“Daardie gesiggie . . . ’n groot klomp mans het soos babas begin huil,” vertel van die inwoners.

Die kind is bewusteloos en in ’n kritieke toestand saam met haar ma hospitaal toe geneem.

Masondo het later gesê die pa is wel in hegtenis geneem, maar die saak is nie deur die hof op die hofrol geplaas nie, hangende verdere ondersoek.

Die saak is nou oorgeplaas na die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings.

Meer oor:  Gesinsgeweld  |  Kindermishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.