Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Mans vas oor olifanttand, broodbome
’n Olifant by die Nxai-panne in Botswana. Foto:Gerhard Steenkamp

Drie mans wat na bewering ’n olifanttand wou verkoop, is in Midrand in hegtenis geneem nadat ’n lokval vir hulle gestel is.

Daar is beslag gelê op die tand en twee voertuie.

Die Groen Skerpioene, Sanparke, die Valke en die polisie se K9-eenheid het in ’n gesamentlike operasie toegeslaan op die mans wat die olifanttand wou verkoop.

Albi Modise, woordvoerder van die departement omgewingsake, het Vrydag gesê die handel in ivoor is strafbaar met tronkstraf van tien jaar of ’n boete van R10 miljoen.

Die mans het Vrydag in die hof in Wynberg, Johannesburg, verskyn en die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.

* In ’n onverwante saak is ’n inwoner van Pretoria, Jan Adriaan van Vuuren, drie jaar tronkstraf of ’n boete van R200 000 opgelê vir die besit van 35 bedreigde broodbome. Die helfte van die vonnis is vir vyf jaar opgeskort.

Van Vuuren is op 14 Desember 2016 in sy huis in La Montagne in die ooste van Pretoria in hegtenis geneem.

Hy is in ’n lokval vasgetrek toe ’n polisieman in burgerdrag die broodbome aan hom te koop aangebied het. Hy het in die streekhof in Pretoria skuld op al die aanklagte beken.

Modise het gesê broodbome is dié spesie wat die meeste in die hande van sindikate beland en onwettig verhandel word.

Hy het gesê dié vonnis behoort ’n duidelike boodskap aan sindikate te stuur.

Ingevolge die nasionale omgewingsbestuurswetgewing (Nema) is die voorgestelde vonnis vir hierdie oortreding ’n boete van R10 miljoen en/of tronkstraf van tien jaar.

* Daar is 308 broodboomspesies, waarvan 38 in Suid-Afrika voorkom. Tot 78% van Suid-Afrika se broodbome word deur uitwissing bedreig. 12 van Suid-Afrika se broodboomspesies is kritiek bedreig, vier is bedreig, tien is kwesbaar, en twee het tussen 2003 en 2010 in die natuur uitgesterf.

Die name van al dié spesies kom voor op die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) se aanhangsel 1.

Meer oor:  Groen Skerpioene  |  Sanparke  |  Midrand  |  Broodbome  |  Olifant  |  Olifanttand  |  Olifanttande
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.