Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ma’s pleeg meeste kindermoorde

Ma’s is verantwoordelik vir die meeste moorde op kinders tussen die ouderdom van een en nege jaar. Die ma’s gooi babas weg of beseer hulle noodlottig.

Só sê dr. Chris Jones van die eenheid vir morele leierskap by die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), luidens 'n verklaring van die universiteit.

“Die belangrikste bydraende faktore tot moorde in hierdie ouderdomsgroep het te make met die ma se geestesgesondheid, byvoorbeeld nageboortedepressie; swak of gebrekkige ouervaardighede (veral by baie jong ma’s); en ’n gebrek aan materiële en emosionele ondersteuning vir nuwe ma’s en pa’s, families, die gemeenskap en die staat,” sê Jones in ’n US-verklaring.

Jones sê sleutelfaktore wat tot moorde onder kinders tussen een en nege jaar bydra, sluit wanfunksionele gesinne in, asook ’n kultuur van geweld, wat veroorsaak word deur geestesgesondheidsversteurings, dwelm- en alkoholgebruik, swak verhoudings en gebrekkige hanteringsvaardighede in gesinne, asook kringlope van mishandeling.

“Die meeste van hierdie bydraende faktore is ook van toepassing op moorde op kinders tussen tien en 17 jaar,” sê hy.

“Maar die volgende faktore is ook beduidend: die kind se eie risiko-optrede en geestesgesondheid – byvoorbeeld deelname aan bendes, misdaad, misbruik van verslawende middels en skoolverlating.”

Jones was lid van ’n navorsingskomitee bestaande uit akademici van die US, asook die Universiteite van Kaapstad (UK) en Wes-Kaapland (UWK), wat onder meer die hoofoorsake van kindermoorde in die provinsie ondersoek het.

Die studie het ook leemtes in bestaande regeringsdienste ondersoek, asook wat die potensiële waarde van die instelling van ’n kommissie van ondersoek of soortgelyke meganisme sal wees.

Een van die redes vir die hoë kindermoordsyfer in die Wes-Kaap is volgens Jones “omdat bestaande navorsing en beproefde ingrypings nie gebruik word soos veronderstel is nie”.

Een van die redes vir die hoë kindermoordsyfer in die Wes-Kaap is volgens Jones “omdat bestaande navorsing en beproefde ingrypings nie gebruik word soos veronderstel is nie”.

Volgens Jones is die komitee se belangrikste aanbeveling die samestelling van ’n provinsiale aksieplan om gapings te hanteer en die voorgestelde stappe vir elkeen van die drie vernaamste ouderdomskategorieë.

“ ’n Plan met geografiese inligting om hierdie gevaarpunte uit te wys en sleutelagentskappe moet op plaaslike vlak versterk word. Internasionaal aanvaarde maatreëls om geweld teen kinders te voorkom moet ook ondersoek word om te sien wat vir Suid-Afrika aangepas kan word.”

Hy voeg ook by dat daar ’n behoefte aan toegewyde bende-eenhede of soortgelyke meganismes bestaan om bendebedrywighede te bekamp.

Hy sê die komitee het die belangrike rol wat die departemente van gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, kinderbeskermingsdienste, die polisie, die nasionale vervolgingsgesag en skole in die bekamping van kindermoorde speel, beklemtoon.

“Beleidmakers en ander besluitnemers moet hul mag gebruik om die ongelukkige en onveilige toestande waarin baie kinders hulself bevind, te verander,” sê Jones.

Volgens Jones het die navorsingskomitee bevind geen behoefte bestaan aan ’n kommissie van ondersoek na kindermoorde in die provinsie nie.

“Omdat so ’n kommissie nie bindend is nie, loop ons die risiko van ’n lang en duur proses wat moontlik geen vrugte gaan dra nie en dit kan selfs die verskillende rolspelers verdeel en ’n wig tussen hulle indryf, veral tussen die provinsie en die geregtelike agentskappe.

“Hoewel strafregtelike regskwessies volgens die navorsingskomitee ’n kommissie van ondersoek kan regverdig, is ander tekortkominge in die regering egter binne die bestuursbevoegdheid van die provinsie en kan dit dus hanteer word sonder dat ’n verdere geregtelike hefboom nodig is.”

Die komitee is op die been gebring nadat die Kaapstadse traumasentrum vir slagoffers van geweld en marteling die Wes-Kaapse regering genader het om die vlaag van kindermoorde die afgelope paar jaar, veral in 2017 en 2018, te ondersoek.

Robert Macdonald was die navorsingskoördineerder namens die Wes-Kaapse regering, wat al die komitee se aanbevelings aanvaar het.

In ’n onlangse artikel in die vaktydskrif HTS Theological Studies bespreek Jones die komitee se bevindinge en aanbevelings. Hy sê die doel is om goed nagevorste inligting aan rolspelers en besluitnemers oor kinders se lewe te verskaf om die geweld waaraan so baie kinders (en vroue) blootgestel word, te hanteer. – Verwerk deur Ané van Zyl

Meer oor:  Chris Jones
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.