Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Matie het haar vermoedelik doodgebloei
Hannah Cornelius is Saterdag nadat sy en ’n vriend geskaak is vermoedelik eers verkrag en toe vermoor. Foto: Facebook

Die 21-jarige Matiestudent wie se lyk Saterdagoggend op die plaas Groenhof buite Stellenbosch gevind is, is sowat vier keer met ’n skerp voorwerp gesteek voordat sy verkrag is.

Drie van die steekwonde was glo aan haar nek. Sy het haar vermoedelik doodgebloei.

Twee van Hannah Cornelius (21) se vermeende verkragters en moordenaars, Vernon Witbooi (32) en Geraldo Parsons (26), het Maandag in ’n stampvol landdroshof in Stellenbosch op aanklagte van ontvoering, motordiefstal, roof met verswarende omstandighede, verkragting en moord verskyn. Buite die hof het studente vreedsaam plakkate rondgeswaai.

Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

Die twee is albei vermeende lede van die 28-bende.

Die hof het gelas dat geen foto’s van hulle geneem of gepubliseer word alvorens ’n uitkenningsparade gehou is nie. Op Parsons se Facebook-blad is daar foto’s van hom in die tronk. Die syfer twee is op sy regterskouer getatoeëer en die syfer agt op sy linkerskouer.

Parsons het ook drie sterre wat agter sy linkeroor getatoeëer is.

’n Bron wat as ’n kenner op die gebied van tronkbendes beskou word, het gesê die sterre beteken dat Parsons ’n kaptein van die 28-bende is.

Hannah Cornelius se lyk is naby die kragboks op die plaas Groenhof buite Stellenbosch gevind. Foto: Maygene de Wee

Witbooi en Parsons is albei Saterdag kort ná 14:00 ná ’n jaagtog deur speurders van Stellenbosch by die plaas Dwars-in-die-weg in Devonvallei, Stellenbosch, in hegtenis geneem. Die twee het van die polisie probeer wegjaag en is daar aangekeer.

’n Derde man is ook Saterdag in hegtenis geneem, maar nog nie aangekla nie. ’n Vierde man is na verneem word nog soek.

Die landdros het die saak teen Witbooi en Parsons tot 28 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Die staatsaanklaer, Lecardo Davids, het gesê hulle staan tereg op bylae 6-misdrywe.

Die twee het aangedui dat hulle om regshulp gaan vra en dat hulle vir eers nie om borgtog gaan aansoek doen nie.

Landdros Greg Jacobs het vir hulle gesê sou hulle in ’n later stadium om borgtog aansoek doen, die onus op hulle sal rus om aan die hof te bewys dat daar buitengewone omstandighede is waarom hulle op borgtog vrygelaat moet word.

Hulle sal ook moet bewys of dit in die belang van geregtigheid is om hulle op borgtog vry te laat.

Die hof het ook gehoor dat daar ’n lasbrief vir Witbooi vir ’n onverwante saak is. Hy moes glo in Maart in die hof in Stellenbosch verskyn, maar het nooit opgedaag nie. Witbooi het aangevoer dat hy in Stellenbosch ontvoer is in daardie tyd en dat hy in Khayelitsha aangehou is. Hy is glo eers in April vrygelaat.

Jacobs het gesê die hof sal sy weergawe aanvaar omdat die staat nie die teendeel kan bewys nie.

Cornelius en ’n studentevriend van haar, Cheslin Marsh, is Saterdag tussen 03:00 en 06:00 in Birdstraat, Stellenbosch, deur vier mans aangeval waar hulle in haar blou Citi Golf gesit en praat het.

’n Man met ’n skroewedraaier het glo die passasiersdeur agter die bestuurder oopgemaak en Cornelius gedwing het om na die agtersitplek te skuif. Nog drie mans het bygekom en Marsh in die bagasiebak toegesluit.

Die studente is van al hul besittings beroof. Die gewapende kapers het toe in ’n stadium na Kraaifontein gery. Hulle het hier Marsh met bakstene teen die kop gegooi en hom vir die dood agtergelaat.

Cheslin Marsh van Wellington was saam met Hannah Cornelius toe hulle aangeval is. Hy is aangerand en in Kraaifontein vir dood gelos.Foto: Facebook

Daarna is hulle met Cornelius terug Stellenbosch toe, waar hulle haar op die plaas Groenhof in ’n verlate paadjie wat langs die wingerde afloop vermoedelik herhaaldelik om die beurt verkrag het.

Haar lyk is Saterdag omstreeks 08:30 langs ’n kragboks gevind.

Marsh is deur mense in Bernadino Heights, Kraaifontein, by wie hy om hulp aangeklop het, gehelp. Hulle het ook die polisie gebel. Hy is na die Kraaifontein-daghospitaal gebring en later na ’n hospitaal in die stad oorgeplaas. Sy linkervoorarm is gebreek en hy het ook verskeie kopbeserings.

Lali van Zuydam, Cornelius se niggie, het gesê haar oom en tannie gaan deur ’n moeilike tyd.

“Ons het verneem van die inhegtenisneming van twee verdagtes. Ons as familie gaan ons berus by die regsproses.”

Willem Cornelius is die hooflanddros van Simonstad en sy vrou ’n bekende prokureur in Kaapse regskringe.

’n Roudiens vir Cornelius word Vrydag om 11:00 uit die NG kerk in Vishoek gehou.

Die adjunkminister van polisie het ook Maandag sy ontsteltenis oor Cornelius se moord uitgespreek.

Hy het dit as sinneloos en wreed beskryf.

Bongani Mkongi het die polisie geprys vir hul vinnige optrede en dat drie mans reeds in hegtenis geneem is. Hy het ook sy meegevoel teenoor die familie betuig.

Mkongi het gesê hy is woedend oor die voortslepende en aanhoudende aanvalle op onskuldige jong vroue, meisies en kinders.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Cheslin Marsh  |  Geraldo Parsons  |  Vernon Witbooi  |  Verkragting  |  Matie  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.