Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Matie-moord: Vriend spring oor muur na veiligheid
Hannah Cornelius (21), ’n student aan die Universiteit Stellenbosch, wat Saterdag saam met ’n vriend gekaap en toe vermoor is.Foto: Verskaf

“As ek nie oor die muur gespring het nie, was ek dood,” het ’n bebloede Matiestudent wat saam met ’n vriendin in Stellenbosch gekaap is, gesê aan die egpaar waar hy om hulp aangeklop het.

Dié vriendin, Hannah Cornelius (21), ’n tweedejaar-BA-student, se lyk is Saterdagoggend langs die Knorhoekpad buite Stellenbosch naby ’n plaas gevind. Sy is vermoedelik met ’n skerp voorwerp gesteek voordat haar moordenaars haar doodgewurg het, het ’n ingeligte bron gesê.

Cornelius en die manlike student, wie se naam nog onbekend is, het Saterdagoggend tussen 03:00 en 06:00 voor ’n woonstelblok in Birdstraat, Stellenbosch, in ’n blou Golf gesit en gesels, toe hulle gekaap is. 

Hy (die manlike student) het kaalvoet daar gestaan en was vol bloed.
Averal Fortuin

Averal Fortuin en sy vrou, Margaret, van Bernadino Heights, Kraaifontein, het omstreeks 08:00 ’n dringende klop aan hul agterdeur gehoor. “Hy (die manlike student) het kaalvoet daar gestaan en was vol bloed. Dit het gelyk of hy sleg geslaan is. Ek het eers gedink dit was ’n geveg in die veld agter die huis,” het Fortuin Sondag gesê.

Die jong man met donker krulhare was in ’n jean en rugbytrui geklee en het gesê: “Ek wil my storie vertel”. Fortuin was op pad om om te loop om hom in te laat, omdat die hond die jong man vasgekeer het, toe die polisie daar verbyry.

Hy en sy vrou het die polisie voorgekeer om te help.

Fortuin het gesê die man was “heeltemal gedisoriënteerd en het nie geweet waar hy was nie”. Hulle het nie verder met hom gepraat nie en weet nie wat sy naam is nie.

Die polisie het “klomp goed in die veld agter die huis gekry en foto’s geneem,” het hy gesê.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek het vier mans Cornelius en dié vriend genader. ’n Man met ’n skroewedraaier het die passasiersdeur agter die bestuurder oopgemaak en Cornelius gedwing om na die agterste sitplek oor te skuif. Nog drie mans het bygekom en Cornelius se vriend is in die kattebak toegesluit.

Die studente is van al hul besittings beroof.

Die studente is van al hul besittings beroof. Die gewapende kapers het toe op ’n stadium na Kraaifontein gery. Hulle het die vriend met bakstene teen die kop gegooi, volgens ’n ingeligte bron. 

Die kapers het Cornelius vermoedelik iewers op die Knorhoekpad verskeie kere gesteek en toe verwurg. Haar lyk is omstreeks 08:30 op die Knorhoekpad gevind, het die polisie Sondagoggend bevestig.

Twee van die vermeende moordenaars is Saterdag omstreeks 11:00 ná ’n jaagtog deur die polisie naby die Dwars-in-die-weg-plaas in Devonvallei, Stellenbosch, in hegtenis geneem. Na verneem word, was hulle met die gekaapte motor betrokke by ’n rooftog in Northpine.

Elsha Henderson, primaria van die Irene-koshuis waar Cornelius gebly het, sê wetstoepassers het Saterdag by vriende in die koshuis ’n beskrywing kom kry oor wat sy aangehad het.

“Ons is verslaan . . . Sy was een van daardie mense wat altyd ’n glimlag vir almal gehad het,” het Henderson gesê.

Cornelius is van Scarborough, naby Simonstad.

Die oorledene is die dogter van Willem Cornelius, die hooflanddros van Simonstad. Sy vrou, Anna, is ’n bekende prokureur in Kaapse regskringe.

Die steun is ’n getuigskrif is vir die wonderlike, liefdevolle en pragtige mens wat Hannah was.
Andries Cornelius

Andries Cornelius, oom van Cornelius, het in ’n verklaring gesê die familie het nog nie al die feite rakende haar dood nie. Die familie het mense bedank vir die steun en dat dit ’n getuigskrif is vir die “wonderlike, liefdevolle en pragtige mens wat Hannah was”.

Prof. Wim de Villiers, rekor van die US, het gesê: “Ons kampusgemeenskap is geskok deur hierdie sinnelose daad en ons hart gaan uit na die familie en vriende van die student wat haar lewe verloor het, asook die student wat in die voorval beseer is.”

Die polisie het Saterdag bevestig dat twee mans in hegtenis geneem is. Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het gesê hulle word voorlopig aangekla van kaping, poging tot moord en moord.

Netwerk24 het vertroulik verneem ’n vierde man word nog gesoek. Die drie verdagtes, waarvan twee in hul 30’s is, sal Maandag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.