Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Matie vermoor in Wynland-kaping
Hannah Cornelius (21)

Die lyk van ’n student aan die Universiteit Stellenbosch is Saterdagoggend naby ’n bekende wynplaas buite Stellenbosch gevind.

Hannah Cornelius (21) is van Scarborough, naby Simonstad. Sy is vermoor kort nadat drie onbekende mans die blou Citi Golf waarin sy en ’n studentevriend gery het, gekaap het.

Haar lyk is omstreeks 08:30 op die Knorhoek-pad gevind. Dié pad sluit by die R44, ’n verbindingspad tussen Stellenbosch en Klapmuts, aan. Die motor het aan Hannah se ouma, Eleanor de Villiers (91), behoort.

Die vermoorde was die dogter van die hooflanddros van Simonstad, Willem Cornelius. Sy vrou, Anna, is ’n bekende prokureur in Kaapse regskringe.

Hannah was ’n BA-student in haar tweede jaar. In 2015 was sy ’n au pair in Frankryk.

Twee verdagtes is deur die polisie vasgetrek.

Rapport verneem die kapers het die blondekop se lyk langs die pad gelaat, waarna hulle met die vriend in die Golf weggery het. Sy naam is nog onbekend.

Hy is toe na Kraaifontein, sowat 20 km verder, geneem, waar hy glo verder aangerand is. Dis hier waar die polisie hom gister opgespoor het en na ’n hospitaal geneem het.

’n Familiewoordvoerder het gister gesê Hannah se ouers moes gistermiddag hul dogter se liggaam gaan uitken en ook haar ouma van haar kleindogter se dood inlig.

Twee verdagtes, met die Citi Golf, is ná ’n uitgebreide soektog deur die polisie vasgetrek.

Die Knorhoek-pad tussen Stellenbosch en Klapmuts Foto: Google maps

Hannah laat benewens haar ouers ook ’n broer, Andries (18), agter.

’n Polisiewoordvoerder, sers. ­Noloyiso Rwexana, het gister gesê ’n klag van moord, poging tot moord en kaping word ondersoek.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, het gisteraand gesê personeel van die afdeling Studentesake was met die ouers oor die kaping in verbinding.

“Ons wens die beseerde student beterskap toe en sal alles in ons vermoë doen om bystand te verleen – ook aan die SAPD in hul ondersoek. Ons is baie verlig om te verneem dat die SAPD twee verdagtes in verband met die kaping in hegtenis geneem het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.