Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Matroosfontein vra hulp om buurtwag te versterk

Die Matroosfontein-buurtwag het ’n beroep gedoen op die gemeenskap om hom te ondersteun sodat sterker teen misdadige elemente van buite en binne die gemeenskap opgetree kan word.

Dit kom nadat Dan Plato, die uitvoerende burgemeester van Kaapstad, Donderdagaand die strate van Matroosfontein saam met die buurtwaglede en die wyksraadslid, Charles Esau, gepatrolleer het.

Die besoek is deel van ’n reeks besoeke wat vroeër vandeesmaand met die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, begin is om lidmaatskap van buurtwagte aan te moedig en hul belangrike misdaadvoorkomingsaktiwiteite te benadruk.

Uitvoerende burgemeester, Dan Plato (tweede van regs), loop saam met die Matroosfontein-buurtwag en wyk 30 se raadslid, Charles Esau (met die bril), deur die strate van die buurt. Foto: Verskaf

Elton Benjamin, woordvoerder van die Matroosfontein-buurtwag, het gesê daar is nie alleen misdadige elemente uit die omliggende gebiede van Bishop Lavis, The Range en Epping Forest nie, maar teenstand word ook uit hul eie gemeenskap ondervind.

Hy meen die diefstal van elektriese kabels maak dit moeiliker om sekere aktiwiteite te voorkom, en die misdadigers weet dit.

“Ons grootste bekommernis is dat ons nie die nodige hulp van die polisie kry wanneer ons hulle ontbied nie. Ons het mense wat die wet oortree, maar niemand word in hegtenis geneem nie. Dit dra daartoe by dat die misdadigers ook nie die buurtwag ernstig opneem nie.”

Benjamin het gesê van die groot probleme in Matroosfontein is huisbraak en die dwelmhandel in onwettige dwelms.

Die Matroosfontein-buurtwag ontvang LED-flitse, glimbaadjies en ander toerusting om te help met hul patrollie-pogings. Foto: Verskaf

Plato het tydens sy besoek LED-flitse, glimbaadjies, gesigmaskers, ontsmettingsmiddel en ander items aan die buurtwag oorhandig.

“Dit is insiggewend om by die buurtwagte te hoor hoe moeilik dit dikwels is om hul werk sonder die nodige ondersteuning te doen,” sê Plato.

Volgens hom is dit belangrik vir die staat en die leierskap van die stad om buurtwagte soveel moontlik te ondersteun.

“Om misdaad te voorkom moet ons almal ons rol speel, ook met die bewustheid van wat ons kan doen om gemeenskappe op te hef,” sê Plato.

Smith het die werk van buurtwagte geprys.

“Ons buurtwagte bewys elke jaar hul waarde deur hul pogings om misdaad in ons gemeenskappe te verminder. Hul toewyding en volharding om ons gemeenskappe te verbeter, word die dryfveer vir soortgelyke inisiatiewe wat in vennootskap geskep word om dieselfde doel te bereik,” sê Smith.

Buurtwaglede wys die plek uit waar misdadigers elektriese kabels steel. Foto: Verskaf

Meer oor:  Charles Esau  |  Dan Plato  |  Misdaad  |  Matroosfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.