Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Mbalula vaar uit ná dood van vragmotor-bestuurder
Bernard Groenewald en sy vrou, Ciska.Foto: Facebook

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het sy simpatie betuig met die vriende en familie van Bernard Groenewald, die Kaapse vragmotorbestuurder wat dood is nadat hy naby Touwsrivier met petrolbomme aangeval is.

Groenewald (49), mede-eienaar van ’n vervoermaatskappy in die Paarl, en sy vragmotor is die oggend van 2 Junie op die N1 met petrolbomme bestook toe hy en sy vrou se swaer langs die pad geslaap het voordat hulle na Johannesburg sou vertrek.

Hy is Vrydagaand ná twee weke in die hospitaal dood, het sy vrou, Ciska, bevestig.

Groenewald het 60%- tot 70%-brandwonde oor sy lyf opgedoen in die aanval waarin die voorruit van sy vragmotor uitgegooi is en hy met ’n petrolbom bestook is toe hy probeer weghardloop het. Hy het ook sy enkel gebreek.

Mbalula het ’n beroep gedoen op die polisie om te verseker dat die brandstigters aan die pen ry en om ’n einde te bring aan die terreur op die paaie.

Ayanda Allie Paine, ministeriële woordvoerder, sê: “Dit was ’n sinlose moord. ’n Onskuldige man, ’n eggenoot en ’n bydraende lid van ons samelewing is wreed aangeval.

“Ons wil landsburgers verseker dat die regering alles in sy vermoë doen om kalmte in die vragmotorbedryf te herstel en om te verseker dat so iets nooit weer gebeur nie.”

Ciska het Saterdagmiddag gesê dit is moeilik en hulle is nog baie hartseer, maar hulle is “oukei”.

Groenewald se roudiens word Vrydag om 15:00 by die NG Suid-gemeente in Mosselbaai gehou.

Die aanval op Groenewald die Sondag om 01:00 was op dieselfde dag waarop minstens 16 ander vragmotors oor die land heen aan die brand gesteek en aangeval is.

Die egpaar het Huddlestone Transport saam bedryf en in die Paarl gewoon.

’n Saak van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging is ná die voorval geopen.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Lees ook: Hanlie gesels met Jan Jansen

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.