Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meer as een mens dalk betrokke by moord op Mans

Die moontlikheid bestaan dat meer as een mens betrokke is by die moord op Natasha Mans, die Bloemfonteinse vrou wat 12 dae lank “vermis” was voordat haar lyk gevind is.

So sê Leon Rossouw, die private speurder, wat met die ondersoek na die raaiselagtige verdwyning van en moord op Mans (41) help.

Haar lyk is op 13 Junie vanjaar agter op die erf van Dennis Casten, haar vriend met wie sy ’n huis in Groenvlei, buite Bloemfontein, gedeel het, gevind. Sy het ’n skietwond in die bors gehad.

Natasha Mans. Foto: Verskaf

Mans het op 31 Mei verdwyn nadat sy haar huiswerker by ’n kerk in die stad afgelaai en terug huis toe gegaan het.

Rossouw meen dat meer as een mens by die verdwyning van en moord op Mans betrokke is.

“Iewers is iemand met al die antwoorde. Ek glo ons is dit aan Natasha verskuldig om die antwoorde te kry.

“Almal maak foute en as ons dié mense se foute kan raaksien, glo ek sal ons genoeg inligting hê om hulle te identifiseer en uit te vind wat tussen 31 Mei en 13 Junie gebeur het,” sê Rossouw.

Hy is besig om te kyk na beeldmateriaal van die dae voordat Mans se lyk onder ’n boom in Casten se erf gevind is.

Van die antwoorde lê in dié beeldmateriaal en dit sal hom help om ’n nog duideliker prentjie te kry, sê hy.

“Die ondersoek is in ’n baie sensitiewe stadium. Ons wag op die uitslae van die ballistiese toetse, bloedtoetse en selfoonverslae. Dit gaan dinge verander en die legkaart nader aan voltooiing bring.

“Ek skakel die moontlikheid uit dat iemand haar opgelaai en 12 dae lank iewers in die stad gehuisves het. Sy was dood in daardie 12 dae en haar lyk is iewers in ’n yskas gehou.”

Rossouw sê van die vrae wat beantwoord moet word, is wie het Mans uit die huis verwyder, hoe is sy verwyder, waar is haar lyk gehou en hoe en wanneer is sy teruggebring.

Haar lyk kon moontlik al ’n dag of twee onder die boom gelê het voordat Casten daarop afgekom het, sê Rossouw.

Die beloning van R20 000 vir enige inligting wat moontlik kan help met die ondersoek, word steeds aangebied.

  • Enigeen met inligting word versoek om Rossouw by 079 240 3491 te bel.
Meer oor:  Leon Rossouw  |  Dennis Casten  |  Natasha Mans  |  Bloemfontein  |  Groenvlei  |  Moord-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.