Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meer as R100 000 skade nadat diewe dragtige koeie slag

’n Groot boerdery in die Rustenburg-omgewing het meer as R100 000 se skade gely toe veediewe vyf koeie, waarvan vier dragtig was, Vrydag geslag het.

Dieter Penzhorn, kuddebestuurder van die Ottermann-boerdery naby Rustenburg in Noordwes, sê een van die koeie het drie dae tevore gekalf.

“Ons moet die kalfie nou met die hand grootmaak. Die langtermynskade is veel groter as net die geldwaarde van dit wat ons nou verloor. Ons koeie word kunsmatig bevrug met net die beste genetika. Elk van die dragtige koeie was sowat R25 000 werd en die een wat onlangs gekalf het sowat R20 000.”

Veediefstal en -slagtings is ’n jare lange probleem op die drie Ottermann-plase van 4 500 ha, asook ander plase in die omgewing. Penzhorn sê sedert 2012 het die Ottermann-boerdery al 152 beeste weens veediefstal verloor.

Die geknipte drade waardeur die veediewe gekom het. Foto: Verskaf

“In hierdie tyd was daar net een suksesvolle vervolging. ’n Ander saak waar verskeie veediewe in hegtenis geneem is, sloer al drie jaar. Ek was al 21 keer in die hof daarvoor, maar die saak word telkens uitgestel. Op van die buurplase is die afgelope twee maande ook vyf beeste geslag.”

Volgens Penzhorn is dit vermoedelik dieselfde sindikaat wat toeslaan sodra hulle smiddags sien daar is nie meer werkers by die beeste nie.

“Hulle beweeg te voet in groepe van drie tot vyf. Ons kry telkens dieselfde voet- en voertuigspore. Nadat hulle die diere geslag het, los hulle net die pensmis, uiers en fetus indien die koei dragtig was. Hulle bel dan makkers met ’n voertuig om die koppe, pote en die res te kom haal. Drade word geknip om toegang te kry. Nadat die voertuig gery het met die buit wat vermoedelik op bestelling gesteel word, verdwyn die slagters te voet.”

Penzhorn sê die sindikaat is so uitgeslape dat die boerdery ondanks drade en kameras selde daarin slaag om hulle te vang. “Ek kan jou nie sê hoeveel nagte ek al in ’n slaapsak by beeste in krale geslaap het nie. Ons het nege kudde op die drie plase. Ons ry ook patrollie in die nag. Die gebied is egter so bebos dat ’n mens nie met ’n voertuig daar kan ry om die diewe te jaag nie.

“Hulle beweeg vinnig en dis moeilik om hulle in te haal. Van die skaapboere in ons omgewing het al moed opgegee en toegemaak. Soms voel dit of ons die stryd verloor.”

Volgens Penzhorn was die polisie se veediefstaleenheid nadat die slagting Vrydag ontdek is vinnig saam met hul honde-eenheid op die toneel.

“Ons voel egter hulle kan oor die algemeen meer doen, daar is selde resultate in die vorm van suksesvolle vervolgings”.

Penzhorn sê hul kameras op die plase het al voertuie en gesigte afgeneem, maar “ ’n gesig beteken nie veel as jy dit nie kan herken of voordat iemand in hegtenis geneem is en dit vergelyk kan word met die persoon op die foto nie. Die voertuie wat afgeneem is, is ook nie duidelik sigbaar nie.”

Kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig Phokeng se veediefstaleenheid ondersoek die diefstal en slagting, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorblyfsels van Vrydag se slagting. Foto: Verskaf

Meer oor:  Rustenburg  |  Koeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.