Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meer metro-polisie in Jhb ‘sal meer slaankrag gee’

Die besluit van die Johannesburgse stadsraad om sy metropolisie te vergroot, gaan beslis meer slaankrag gee om misdaad in dié metropool te bekamp, sê Wayne Minnaar, metropolisie-woordvoerder.

Johannesburg se begrotingsrede vir die 2019-’20-boekjaar word Woensdag in die munisipale raadsaal in Braamfontein, Johannesburg, gelewer. Foto: Christiaan du Plessis

Dít kom nadat Funzela Ngobeni, burgemeesterskomiteelid vir finansies, Woensdag in sy 2019-’20-begrotingsrede in die munisipale raadsaal in Braamfontein aangekondig het dat die getal metropolisielede vanjaar meer as verdriedubbel gaan word.

Altesaam 1 500 nuwe metropolisielede sal hulle in Oktober by die metropolisie se huidige mag van 800 lede aansluit. Dit sal ná afloop wees van hul spesiale opleiding, waarmee hulle reeds begin het.

Minnaar sê die bykomende lede sal die metropolisie se sigbaarheid aansienlik uitbrei, asook help om munisipale wette meer doeltreffend toe te pas.

As deel van die R5,5 miljard wat in die begroting opsygesit is vir die departement van openbare veiligheid, het Ngobeni aangekondig dat R70 miljoen vir die oprig van ’n veiligheidsentrum geoormerk is. Dié sentrum sal onder meer data van kringtelevisiekameras in die stad stoor en ontleed sodat wetstoepassers vinniger kan optree.

Volgens Minnaar monitor wetstoepassers reeds sowat 400 kringtelevisiekameras in die metropool, wat nou tot sowat 1 000 uitgebrei sal word.

Inwoners sal egter ook hul hand dieper in hul sak moet steek nadat Ngobeni in sy begrotingsrede ook verskeie tariefverhogings aangekondig het.

Hoewel dié heffings grootliks deur faktore buite die munisipaliteit se beheer bepaal word, kan dit egter deels aan die munisipaliteit toegeskryf word.

Weens die nasionale energiereguleerder (Nersa) wat ’n tariefverhoging van 15,63% aan Eskom toegestaan het, moet die munisipaliteit ’n heffing van 13,07% op sy kragtarief instel, sê Ngobeni.

Op water kom ’n prysheffing van 9,9%. Die tarief vir vullisverwydering en eiendom sal onderskeidelik met 5,5% en 7% styg.

Daar is 160 000 name op ons behuisingswaglys en die behuisingsagterstand word op 300 000 geraam.
Funzela Ngobeni, burgemeesterskomiteelid vir finansies

Ngobeni beskryf die opstel van die jongste begroting as ’n balanseertoertjie – enersyds wil die munisipaliteit in die lig van die swak ekonomiese omstandighede die kostes laag hou. Andersyds moet gesorg word dat die munisipaliteit genoeg geld het om sy verpligtinge na te kom, asook om verandering teweeg te bring in ’n metropool waar byna die helfte van sy inwoners in armoede leef.

“Daar is 160 000 name op ons behuisingswaglys en die behuisingsagterstand word op 300 000 geraam,” sê Ngobeni.

Die behuisingsdepartement kry R1,1 miljard van die algehele operasionele begroting van R56,7 miljard.

Ngobeni sê hoewel die metropool deur groot uitdagings in die gesig gestaar word, was daar reeds ’n skuif om die lewensgehalte in Johannesburg in verskeie afdelings te verbeter, wat onder meer openbare veiligheid, basiese infrastruktuurontwikkeling en gesondheid betref.

“Die stad het egter vir te lank te veel met te min hulpbronne probeer doen,” sê Ngobeni.

Soveel geld word vir departemente geoormerk:

* Die departement van behuising kry oor ’n tydperk van drie jaar ’n operasionele begroting van R1,1 miljard en ’n kapitaalbegroting van R3,5 miljard.

* R440 miljoen is oor ’n tydperk van drie jaar geoormerk vir die departement van omgewingsake en infrastruktuur, waarvan R150 miljoen vir openbare beligting gebruik sal word.

* Aan Johannesburg Water is ’n operasionale begroting van R11,5 miljard toegeken.

* Die Johannesburgse maatskaplike behuisingsmaatskappy, wat onder meer verantwoordelik vir die herlewing van die Johannesburgse middestad is, het ’n operasionale begroting van R874 miljoen gekry.

*Altesame R217 miljoen oor ’n onbepaalde tydperk is geoormerk vir die departement van gesondheid. Dit sal onder meer die oprigting en opgradering van verskeie klinieke befonds.

* Aan die departement van maatskaplike ontwikkeling is ’n operasionele begroting van R253 toegeken. Dit is onder meer vir sentrums vir dwelmverslaafdes verantwoordelik.

* Die departement van vervoer het ’n operasionele begroting van R1,9 miljard en ’n kapitaalbegroting van R3,1 miljard gekry wat oor drie jaar spandeer sal word.

* Aan die departement van finansies in die metro is ’n operasionele begroting van R5,4 miljard toegestaan.

Meer oor:  Wayne Minnaar  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.