Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meeste gesteelde polisiewapens vir misdaad gebruik

Slegs 22 van die 364 vuurwapens wat die afgelope agt jaar by die Gautengse polisie gesteel of verloor is, is nie in die uitvoering van ’n misdaad gebruik nie.

Meer as 40 polisiewapens is in die 2016-’17-boekjaar in Gauteng gesteel en die provinsiale polisie kon oor die afgelope agt boekjare slegs 45 vermiste vuurwapens terugvind.

Sizakele Nkosi-Malobane, Gauteng se LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê polisielede het opdrag om hul vuurwapens ingevolge die Wysigingswet op Beheer van Vuurwapens van 2003 te beveilig.

Ander stappe om die verlies van polisievuurwapens te bekamp, sluit tugstappe teen polisielede wat nie hul wapens behoorlik beveilig nie en gereelde inspeksies van vuurwapens in.

Die Gautengse polisie het ten spyte hiervan 39 vuurwapens tussen 2009 en 2017 verloor. In dieselfde tydperk is 325 vuurwapens by die polisie gesteel.

Nkosi-Malobane het dié onthullings in antwoord op ’n vraag deur Kate Lorimer, lid van die provinsiale wetgewer en die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in Gauteng, gemaak.

Volgens Lorimer is die vermiste vuurwapens aan 342 misdade insluitend moord, poging tot moord, voertuigkaping, gewapende roof, huisbraak en diefstal gekoppel.

Die jongste misdaadstatistieke maak dit duidelik dat geweldsmisdaad soos huisroof toeneem in Gauteng.
Kate Lorimer

“Volgens die LUR is daar 43 inhegtenisnemings in verband met die vermiste wapens gemaak, maar daar was die afgelope agt jaar slegs een suksesvolle vervolging,” sê Lorimer.

Die vervolging was in verband met ’n moordsaak.

Lorimer beweer dossiere is in die meeste gevalle waar vermiste vuurwapens wel opgespoor is, gesluit of die sake heeltemal onttrek.

“Die jongste misdaadstatistieke maak dit duidelik dat geweldsmisdaad soos huisroof toeneem in Gauteng,” sê Lorimer.

“Dit is dus glad nie verbasend dat die inwoners van Gauteng nie die polisie vertrou om hul veilig te hou nie, gegewe dat polisielede skynbaar nie hul vuurwapens beveilig nie en die wapens uiteindelik in die hande van misdadige elemente beland.”

Volgens Lorimer verswak die “feitlik niebestaande” vervolgings van hierdie sake die situasie net verder.

Sy het Nkosi-Malobane gevra om seker te maak dat elke polisielid in die provinsie by die regulasies van die Vuurwapenwet hou en om streng op te tree teen diegene wat dit nie doen nie.

Meer oor:  Sizakele Nkosi-Malobane  |  Gauteng  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.