Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meeste huisrooftogte, kapings en verkragting in Gauteng
Nathan Hebler en sy pa, Johan.

Die lewe van die Hebler-gesin van Vanderbijlpark het op 2 Februarie vanjaar onherroeplik verander.

Nathan Hebler (18) is in sy fleur van hulle weggeruk toe Tommy Phalatsi (49) met ’n pistool op mense op ’n parkeerterrein voor die Slap Chips-kitskoswinkel losgebrand het.

Nathan se pa, Johan (52), is ernstig gewond. Nathan is sowat vier uur ná die skietery in die hospitaal dood.

Phalatsi het homself ook doodgeskiet.

Catherina Hebler, Nathan se ma, het Vrydag gesê sy huil nog baie oor haar seun se afsterwe.

“Dis baie moeilik, maar ons doen ons bes. Ek vermy steeds die dorp.”

’n Gedenkdiens word Saterdag in Vanderbijlpark vir Nathan gehou. Die gesin wou vir Johan wag om te herstel voordat hulle die roudiens hou. Catherina sê Johan sterk goed aan en dat sy dokters tevrede is.

Nathan is een van 966 mense wat vanaf 1 Januarie tot 31 Maart vanjaar in Gauteng vermoor is, luidens die polisie se jongste misdaadstatistieke, wat Vrydag bekend gemaak is. Dis 36 meer moorde as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, toe 930 mense vermoor is.

Gauteng is die provinsie waar die tweede meeste moorde vanaf Januarie tot Maart vanjaar gepleeg is. Daar was in dié tydperk slegs in KwaZulu-Natal meer moorde (1 281).

Ivory Park in Midrand, Hillbrow in Johannesburg en Kagiso aan die Wes-Rand is onder die 30 polisiekantore landwyd waar die meeste moorde aangemeld is.

Dis baie moeilik, maar ons doen ons bes. Ek vermy steeds die dorp.

Talle Gautengse polisiekantore is onder die 30 polisiekantore landwyd waar verskillende misdrywe die meeste gepleeg is. Gauteng het landwyd die ergste onder huisrooftogte, verkragtings, voertuigkapings en transitorooftogte deurgeloop.

In Honeydew in Johannesburg het die meeste huisrooftogte landwyd vanaf Januarie tot Maart plaasgevind: 68. Ander polisiekantore in Gauteng wat ook onder die top-30 val vir die meeste huisrooftogte landwyd, sluit in Ivory Park in Midrand (derde op die lys met 59 rooftogte), Diepsloot, Olievenhoutbosch, Roodepoort, Sandton en Vanderbijlpark. Daar was vanaf Januarie tot Maart 1 751 huisrooftogte in Gauteng, 22 minder in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die meeste verkragtings (2 031) is ook in die provinsie aangemeld. Verskeie Gautengse polisiekantore is onder die top-30 in dié kategorie, onder meer Alexandra, Mamelodi-Oos, Honeydew en Ivory Park.

Verreweg die meeste motorkapings landwyd vanaf Januarie tot Maart vanjaar is in Gauteng aangemeld – 2 328 uit 4 513. In Gauteng was daar ook 38 méér kapings as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

In Gauteng is 19 polisiekantore onder die 30 landwyd waar die meeste motorkapings vanaf Januarie tot Maart aangemeld is. In Loate naby Pretoria was die tweede meeste voorvalle (57) landwyd. Dis ’n drastiese toename sedert die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, toe daar nege voorvalle in Loate was.

Die meeste vragmotorkapings vanaf Januarie tot Maart landwyd was in Gauteng – 206 uit 354. Die tweede meeste voorvalle (47) was in die Oos-Kaap. Die meeste transitorooftogte (19) was ook in Gauteng.


Verkragtings in Noordwes

Twee polisiekantore in Noordwes is onder die 30 waar die meeste verkragtings vanaf Januarie tot Maart aangemeld is: Ganyesa in die Vryburgdistrik en Jouberton by Klerksdorp. Verkragtings in die tydperk Januarie tot Maart (694) het wel afgeneem teenoor verlede jaar (767). 175 moorde is in dié tydperk gepleeg.

Aanvalle op plase en kleinhoewes in Noordwes het meer as verdubbel teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Daar was vanaf Januarie tot Maart 13 voorvalle, teenoor verlede jaar se ses. 251 huisrooftogte is vanaf Januarie tot Maart in Noordwes gepleeg.

Daar was 640 veediefstalvoorvalle in Noordwes. Die polisiedistrikte in Mmabatho en Taung is onder die 30 landwyd waar die meeste voorvalle van veediefstal aangemeld is.

KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Mpumalanga en die Oos-Kaap het ook deurgeloop.

Meer oor:  Misdaadstatistiek  |  Nathan Hebler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.