Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Meeste nié ten gunste van anargie in Harrismith’

Die meeste inwoners van Harrismith, Intabazwe en Tshiame ondersteun beslis nie die anargie en misdadige optrede waaronder die gebied die afgelope maand gebuk gaan nie.

Leona Kleynhans, ’n DA-raadslid in die Maluti-a-Phofung munisipaliteit, sê heelwat van die kwessies waaroor Neo Motaung en sy volgelinge betoog, is wel geldig. Niemand steun egter dié groep se misdadige optrede nie.

Brandbestryders blus verlede week die vlamme wat ’n vragmotor op die N3 buite Harrismith verswelg het. Dit is deur betogers aan die brand gesteek.Foto: Verskaf

Motaung se groep, die Greater Harrismith Community, het op 24 Mei met protesoptrede in die gebied begin.

Dit het ’n vlaag van geweld en vandalisme ingelui.

Luidens ’n mediaverklaring het die polisie tot dusver 12 mense in hegtenis geneem. Agt bly in aanhouding en vier is op waarskuwing vrygelaat.

Van hulle is minderjariges wat in hul ouers se sorg vrygelaat is.

Motaung, voorheen ’n lid van die ANC se jeugliga, het die afgelope week mediaonderhoude gevoer en word as leier van die beswaardes beskou.

Lede van die ANC se provinsiale leierskap het Donderdag met Motaung en sy volgelinge vergader.

Pule Mabe, provinsiale woordvoerder van die ANC, sê die ontevredenes het die probleme met dienslewering in die gebied onder die ANC se aandag gebring.

Volgens Mabe het die afvaardiging van die ANC reeds terugvoering aan die presidensie en die kantoor van die sekretaris-generaal van die party gegee.

“As die leier van die gemeenskap bly die ANC verbind daartoe om blywende oplossings te vind sodat die gebied weer na normaal kan terugkeer,” het Mabe vroeër gesê.

Kleynhans sê ondernemings in die dorp sukkel om voorraad te kry, plaaslike skole is gesluit en mense word geïntimideer om nie werk toe te gaan nie.

Die polisie se eenheid vir openbare orde is al ’n maand lank hier.

’n Hele aantal klagte is by die polisie ingedien deur inwoners sowel as DA-raadslede oor aanhitsing tot geweld, beskadiging van eiendom en intimidasie.

Kleynhans meen die gewelddadige optrede het meer met faksiegevegte binne die ANC as met dienslewering te make.

Die dorp se ekonomie is verlam en mense in die townships leef in vrees vir die geweld en intimidasie.

“Verkose verteenwoordigers van die munisipaliteit word nie geken nie maar daar word vergader met mense wat misdadigheid aanhits.”

Dit is politiekgedrewe en gaan nie oor dienslewering nie, sê Kleynhans.

Daar sou Sondag weer met Motaung en sy groep vergader word om na oplossings te kyk. Mabe was teen laatmiddag nog nie vir kommentaar beskikbaar nie.

* ’n Vragmotorbestuurder is op 27 Mei by Harrismith oorlede nadat ’n petrolbom na hom gegooi is en sy voertuig omgeslaan en uitgebrand het.

Nog vragmotors is deur petrolbomme beskadig of vernietig terwyl vliegtuie uitgebrand het toe oproermakers vliegtuigloodse by die dorp se lughawe aan die brand gesteek het.

Dié betogers het ook geboue gestroop of afgebrand.

Die nasionale ekonomie word ook deur die groep geraak omdat die N3- en N5-hoofpaaie kort-kort gesluit moet word om padgebruikers se veiligheid te verseker.


Meer oor:  Harrismith  |  Anargie  |  Protesoptrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.