Meghan, hertogin van Sussex, het ’n lint gebind en ’n boodskap in Xhosa geskryf om haar laaste respek te betoon by ’n tydelike plek van eerbetoon by die poskantoor waar die Kaapse student Uyinene Mrwetyana (19) onlangs wreed verkrag en vermoor is.
Dit is deel van die hertogin se ondersteuning aan die veldtog teen geslagsgeweld en moord op vroue en kinders.
Volgens die joernalis Emily Andrews van The Sun het die hertogin vroeër vandeesweek ’n geheime besoek aan Mrwetyana se familie gebring. Meghan het ook haar medelye aan Mrwetyana se ma oorgedra.

Meghan, hertogin van Sussex, sit ’n boodskap en lint by die tydelike gedenkplek by die poskantoor in Claremont waar die student Uyinene Mrwetyana verkrag en vermoor is. Foto: Instagram/sussexroyal
Die 19-jarige student het eers spoorloos verdwyn waarna haar lyk in Lingelethu-Wes gevind is. Sy is eers in die poskantoor in Claremont, waar sy ’n pakkie sou gaan haal, verkrag en wreed vermoor. ’n Poskantoorwerker het reeds in die landdroshof in Wynberg verskyn nadat hy skuld beken het.
Luidens Andrews se twiets was die hertogin erg geskok deur die marteling van die “pragtige slagoffer”.
Meghan het die woorde “Simi kunye kulesisimo” (Ons staan saam om die situasie) en “Harry & Meghan 26th September 2019” in haar unieke sierskrif in Xhosa by die geel linte by die poskantoor gelaat.

Uyinene Mrwetyana
Luidens ’n inskrywing op die paar se amptelike Instagram-rekening het prins Harry, hertog van Sussex, en sy vrou reeds voor hul besoek die nuusgebeure hieroor gevolg en wou meer daaroor te wete kom met hul besoek aan Kaapstad.
Die hertogin beskou geweld teenoor vroue en meisies wêreldwyd en spesifiek Suid-Afrika as uiters belangrik. “Uyinene se dood het mense oor Suid-Afrika heen gemobiliseer in hul stryd teen geweld tenoor vroue en meisies, en word gesien as ’n kritieke draaipunt vir die toekoms van vroueregte in die land,” lui die inskrywing.
Die hertogin het private besoeke en vergaderings met betrokkenes gehou om haar begrip van die situasie te verdiep en om haar ondersteuning te betoon aan die stryd om die regte van vroue en kinders te eerbiedig.
Protesbetogings teen geslagsgeweld is die afgelope maand in Kaapstad, Johannesburg en ook Vrydag in Pretoria gehou.
KLIK HIER VIR DIE BRITSE KONINGSHUIS SE SAMEVATTING VAN PRINS HARRY EN MEGHAN, HERTOGIN VAN SUSSEX, SE BESOEK AAN SUIDERLIKE AFRIKA
Meghan en Harry se seun, Archie, het Woensdag harte gesteel toe hy emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ontmoet het.
Die kleinding het saam met sy bekende ouers hul eerste afspraak van die dag nagekom: ’n besoek aan die menseregtestryder en anti-apartheidsvegter by sy stigting in Zonnebloem, Kaapstad. Dit het in ’n video aan die lig gekom dat haar troetelnaam vir haar seun “Bubba” is.

’n Trotse Harry en Meghan kyk toe terwyl Desmond Tutu vir Archie groet. Foto: Reuters
Die hertogin het ook die Woodstock Exchange besoek om vroulike entrepreneurs in tegnologie te besoek. Sy het ook mothers2mothers aangedoen, ’n organisasie wat vroue wat aan MIV/vigs ly oplei. Sy het van Archie se ou klere aan hulle in die gees van welwillendheid geskenk.
Prins Harry het Donderdag alleen verder gereis na Botswana en was Vrydag in Angola. Hy besoek ook Malawi voordat hy na Johannesburg vertrek waar hy by sy vrou en seun gaan aansluit.
LEES OOK: Harry volg in Diana se Angolese spore