Die polisie ondersoek die dood van ’n 14-jarige meisie wie se lyk Sondag in Heinz Park naby Philippi gekry is.
Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die meisie se lyk om 08:17 in die agterplaas van ’n huis in Heinz Park gekry is.
“ ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van haar dood vas te stel en ’n moorddossier is aangelê. Ons speurders volg alle leidrade op.”
Hoewel die polisie nie die meisie se naam bekend gemaak het nie, berig die koerant Daily Voice dat Janika Mallo se familie haar lyk gekry het.
Die koerant het berig dat sy ’n leerling aan die Northwood Primary School in Mitchells Plain was.
Die skoolhoof het alle navrae na die Wes-Kaapse departement van onderwys verwys.