Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meisie (14) van Piketberg glo deur man op parool verkrag

’n Man wat glo op parool is, het na bewering Woensdag ’n 14-jarige meisie in Piketberg in die Swartland verkrag drie dae nadat hy probeer het om ook ’n ander meisie te verkrag.

Die polisie het bevestig ’n verdagte is in hegtenis geneem.

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n klag van verkragting is by die polisiekantoor in Piketberg ingedien en ’n verdagte is in hegtenis geneem.

“Nog ’n klag oor ’n poging tot verkragting is vanoggend (Saterdag) ingedien.”

Van Wyk het bevestig dat dieselfde verdagte in albei sake ter sprake is. “Die ondersoek duur voort.”

Die man verskyn na verwagting Maandag in die hof.

Billy Claasen, hoof van die landelike en plaaswerker-ontwikkelingsorganisasie in die Wes-Kaap, het die polisie geloof vir die vinnige optrede.

“Die slagoffer het die verkragter in die nek gebyt. Vanoggend het nog ’n slagoffer na vore gekom wat sê hy het haar probeer verkrag. Hy het haar glo verlede Sondag aangeval en haar onderklere afgeruk. Sy is deur voetgangers gered, maar hy het met haar selfoon weggekom.”

Dit is in dieselfde week dat Tazne van Wyk (8) van Elsiesrivier se lyk in ’n stormwaterpyp langs die N1 in Worcester gekry is nadat sy vermoor is, vermoedelik ook deur iemand wat op parool was.

Moyhdine Pangarker (54), die beskuldigde in Tazne se moord, het Vrydag in die landdroshof in Goodwood in verband met haar ontvoering en moord verskyn.

Claasen sê dit is ’n feit dat die Piketberg-verdagte uit die tronk kom en twee weke gelede op parool vrygelaat is nadat hy “glo tronkstraf uitgedien het vir die verkragting van ’n tienjarige kind”.

Hy sê sy organisasie wil hê pres. Cyril Ramaphosa en die betrokke kabinetslede moet in diepte kyk na amnestie en parool van sekere gevangenes.

“Die gebeure die afgelope paar weke is ’n saak van groot kommer vir ons in arm gemeenskappe.

“Ons wil hê dié mense moet uit die samelewing verwyder word. Hulle moet agter tralies bly sonder enige parool.”

Intussen het dit bekend geword dat die departement van justisie en korrektiewe dienste tans ’n spesiale ondersoek na die land se paroolstelsel doen.

Meer oor:  Piketberg  |  Misdaad  |  Verkragting  |  Verkragter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.