’n Saak van dieremishandeling word ondersoek nadat ’n minderjarige meisie na bewering meer as 15 varkies in hul kamp in Pacaltsdorp, George, aangeval het.
Volgens die Tuinroete-Dierebeskermingsvereniging (DBV) is insp. Henrico Peypers op 3 Augustus ontbied nadat ’n oproep ontvang is oor jong varke wat glo die vorige aand in Pacaltsdorp deur ’n minderjarige meisie van Syferfontein aangeval is. Dit het later geblyk die meisie is ses jaar oud en na bewering was ander kinders ook by die voorval betrokke.
“Die meisie is deur ’n boer in die kamp betrap waar die varkies aangehou word. Hy het die meisie na die polisiekantoor geneem waar sy later op waarskuwing in die sorg van haar ouers vrygelaat is,” sê Wendy Jones, ’n DBV-woordvoerder.

Van die dooie en lewende varkies wat in die kamp aangetref is. Foto: Tuinroete-DBV
Op die plaas het Peypers verskeie karkasse van jong varkies aangetref. Van die ander varkies het hul agterpote gesleep om by hul kos uit te kom en kon nie behoorlik loop nie. Altesame 16 dooie varkies en 15 lewende varkies met beserings is na die DBV geneem.
Dit wil voorkom asof die varkies met ’n stomp voorwerp aangeval is.
’n Saak van dieremishandeling word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Net ’n week ná die voorval, op 10 Augustus, het Vanessa Lucas, ’n veldbeampte van die DBV, ’n soortgelyke klag in dieselfde gebied ontvang. By nadere ondersoek het Lucas drie dooie varkies en drie varkies wat hul agterbene sleep op die perseel aangetref. ’n Nadoodse ondersoek het getoon die varkies is met ’n stomp voorwerp aangeval omdat daar geen uitwendige beserings sigbaar was nie.
Volgens die DBV kan die meisie nie met die tweede voorval verbind word nie weens ’n gebrek aan getuienis.
Niemand is nog in verband met die tweede voorval aangekeer nie en dit is ook nog nie bekend of die voorvalle met mekaar verband hou nie.
Volgens die Tuinroete-DBV is dit een van die ergste voorvalle van wreedheid teenoor diere wat hy nog teëgekom het.