Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meisie help polisie om kêrel se kapers blitsig op te spoor

’n Tukkie-student het Woensdagaand tot haar ontvoerde kêrel se redding gekom toe sy binne minute die polisie op sy gekaapte voertuig se spoor gekry het.

Hoewel sy so geskok was dat die Brooklyn-polisie se slagofferondersteuningsentrum haar moes bystaan, kon die meisie soveel detail van haar kêrel se kar gee, dat die polisie en ’n voertuigopsporingsmaatskappy in ’n oogwink op die kapers se hakke was.

Die 29-jarige kêrel is net meer as ’n halfuur nadat hy gekaap is fisiek ongedeerd in sy voertuig se kattebak in Mamelodi gevind.

Sy het aan die persoon by die sentrum vertel wat gebeur het, en dié het die inligting onmiddellik aan die ander polisielede deurgegee.

Die aanvallers het vermoedelik hom en sy kar net daar gelos toe hulle die sirenes gehoor het.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, sê die kêrel het Woensdagaand om ongeveer 22:30 in Universiteitsweg, net buite die kampus van die Universiteit van Pretoria, vir sy vriendin gewag, wat in die biblioteek was.

“Twee mans het na sy Volkswagen Polo gestap en met ’n vuurwapen gedreig. Hy is gedwing om op die agtersitplek te gaan lê, en die rowers het weggetrek,” sê Weilbach.

Die vriendin het egter in daardie stadium uitgekom en gesien hoe vreemdelinge met haar kêrel se kar wegry.

“Sy is inderhaas na die Brooklyn-polisiestasie, wat net meer as ’n kilometer van die universiteit af is,” sê Weilbach.

Die meisie het egter so erg van ontsteltenis gehuil, dat die eerste polisielede wat sy teëgekom het haar na die polisiekantoor se slagofferondersteuningsentrum (by die polisiestasie), geneem het.

“Sy het aan die persoon by die sentrum vertel wat gebeur het, en dié het die inligting onmiddellik aan die ander polisielede deurgegee,” sê Weilbach.

Intussen het die kapers kort nadat hulle by die universiteit gery het, langs die pad gestop, die kêrel se persoonlike besittings soos sy foon en beursie gevat, en hom daarna gedwing om in die kattebak te klim.

Ons het nou ’n veldtog, genaamd ‘Keep your head up, your cellphone down’, want die studente loop met hulle fone op straat en dan word dit gegryp.

“Hy kon voel toe hulle weer ry, maar sê ’n ent verder het die voertuig gestop. Hy kon sirenes hoor, en toe maak die polisie die kattebak oop,” sê Weilbach.

Die geroofde Polo is net ná 23:00 in Mamelodi, in die ooste van Pretoria, gevind, waar die rowers dit gelaat en te voet gevlug het.

Die kêrel was ongedeerd.

Brig. Kushie Nair, die Brooklyn-stasiebevelvoerder, het haar lede geprys vir hulle vinnige optrede wat tot die kêrel se redding gelei het.

Hoewel Woensdagaand se kaping naby die universiteit in dié stadium ’n geïsoleerde geval was, sê Weilbach dat studente gereeld onder straatrooftogte deurloop.

“Ons het nou ’n veldtog, genaamd ‘Keep your head up, your cellphone down’, want die studente loop met hulle fone op straat en dan word dit gegryp.

“Daar is ook verskeie diefstalle vanuit motorvoertuie, en vals profete wat die jong mense uit hul geld kul, so ons maan die studente om waaksaam te wees,” sê sy.

Meer oor:  Pretoria  |  Kaping  |  Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.