Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Meisie steek glo medeleerling in hoof se kantoor dood
Inwoners drom Woensdagoggend voor die Rosendal Intermediêre Skool in Upington saam waar Ranishia Athleen van Wyk (14), ’n gr. 8-leerling, doodgesteek is.

’n Skoolmeisie van Rosedale, Upington, het Woensdagoggend na bewering ’n medeleerling van die Rosendal Intermediêre Skool in die skoolhoof se kantoor met ’n mes doodgesteek.

Ranishia Athleen van Wyk (
Ranishia Athleen van Wyk (14) is Woensdagoggend met 'n mes by haar skool doodgesteek. Foto: Facebook

Ranishia Athleen van Wyk (14) is na bewering deur ’n 16-jarige meisie een keer in die bors gesteek en is op pad na die hospitaal dood.

Albei die leerlinge is in gr. 8 in die skool.

Die voorval het sowat vyf minute nadat die skooldag om 07:10 begin het, plaasgevind.

Thelma van Wyk, ’n familielid, beweer die meisies het die vorige dag glo stry gekry.

Die een meisie het glo toe ’n eetvurk by haar gehad.

“Die kind het glo gesê sy gaan vandag (Woensdag) skool toe om Ranishia dood te steek. Niemand het egter verwag dit sou gebeur nie,” sê Van Wyk.

“Almal is nog geskok. Dit is ’n tragedie. Jy verwag nie om ’n doodstyding van die skool te kry nie. Dit het in die skoolhoof (Charles Groenewald) se kantoor gebeur terwyl hulle gewag het om aangespreek te word oor gister (Dinsdag) se bakleiery,” sê sy.

Volgens Van Wyk het die nuus oor Ranishia se dood nog nie by haar ma, Shirlyn-Ann, ingesink nie. “Sy huil, maar ek dink die skok gaan haar eers later tref.”

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, is hulle “diep bekommerd oor die jongste voorval”.

Die kind het glo gesê sy gaan vandag skool toe om Ranishia dood te steek. Niemand het egter verwag dit sou gebeur nie,
woordvoerder
Ranishia Athleen van Wyk (14)

“Ons is nog nie seker wat tot die voorval gelei het nie, maar ons distrikskantoor ondersoek dit.

“Die vermeende oortreder is geskors hangende die uitkoms van ’n tugverhoor. Sy sal geïsoleer word en sal haar eksamen onder toesig skryf,” sê Van der Merwe.

Volgens hom het die departement beraders na die skool gestuur vir die leerlinge en onderwyser.

“Skole is ’n spieëlbeeld van ons samelewings en dit maak ons seer dat skole ’n oorlogsone geword het. Ons doen ’n beroep op die breër gemeenskap van Upington om saam met ons te werk vir veiliger skole, huise en gemeenskappe,” sê Van der Merwe.

Van Wyk sê ouers het ná die voorval na die skool gehardloop om hul kinders te gaan haal, omdat hulle nie geweet het watter leerling gesteek is nie.

“Ranishia was ’n intelligente kind, ’n A-student. Dit is net dié jaar wat sy bietjie stout was. Sy het sport ook gedoen. Ons almal sit nog met vrae want ons weet nie waaroor gister se bakleiery was nie. Ons het nie antwoord nie. Die onderwysers en die gemeenskap is almal geskok.”

* Die voorval kom vyf dae nadat die familie Saterdag vir Samoline Solomons (35) begrawe het. Sy is verlede Sondag voor haar tienjarige dogter en 67-jarige ma in ’n koeëlreën voor haar ouerhuis in Upington doodgeskiet. Die skieter het hom daarna aan die polisie oorgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.