Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Mense op platteland ken bure, vra makliker hulp met kinders

Mense in landelike gebiede ken hul bure beter en is meer geneig om hulle te vra om ’n ogie oor hul huis te hou as hulle weggaan. Hulle vra ook makliker hulp met hul kinders as diegene in stedelike gebiede.

Dít blyk uit die jongste syfers wat Statistieke SA Dinsdag bekend gemaak het.

Die jongste statistieke is gedoen met die fokus op slagoffers van geweld in die tydperk tussen April 2019 en Maart 2020.

Daar is gefokus op mense se waarneming van en ervaringe met misdaad, asook hul mening oor toegang tot die polisie en die polisie se doeltreffendheid. Huishoudings is ook gevra oor die gemeenskap se reaksie op die geweld om hulle.

Burgerlike interaksie en die samelewing

Dit het geblyk dat mense in landelike gebiede meer geneig is om hul bure se name te ken as diegene in die stede.

Oos-Kaap ken hul bure die beste met 96,2% van die bevolking wat te kenne gegee het dit is die geval, terwyl Gauteng die laagste is met 85,9%. In die Wes-Kaap ken net 91,5% van die mense hul bure. Dit is naas Gauteng die laagste syfer.

Daar was geen merkwaardige toename of afname in die getal inwoners wat hul bure sou vra om ’n ogie te hou oor hul huis terwyl die eienaars weggaan nie, maar inwoners in landelike gebiede was meer geneig om op hul bure se knoppie te druk.

Tussen 2015/2016 en 2016/2017 het die getal mense wat hul bure sou vra om hul kinders op te pas, aansienlik toegeneem, maar tussen 2016/2017 en 2017/2018 het dit afgeneem. Vergeleke met 2019/2020 was daar nie ’n aansienlike verskil van die vorige jaar nie en net 79,2% van die bevolking sou op hul bure staatmaak op hul kinders op te pas.

Diefstal

In die tydperk 2019/2020 was daar 1,2 miljoen voorvalle van huisbrake, maar net 51,7% daarvan is by die polisie aangemeld.

Sowat 891 000 huishoudings het misdade aangemeld en dit maak sowat 5,3% van die totale land se huishoudings uit.

Motordiefstalle by huishoudings het afgeneem teenoor die vorige jaar met 82 000 voorvalle wat in 2019/2020 aangemeld is. Minder as 1% van die huishoudings het motordiefstalle ervaar en net 79% van die voorvalle is by die polisie aangemeld. Dit is ’n afname van 7,6% van die vorige jaar.

Daar was 72 000 voorvalle van opsetlike beskadiging van huise en/of informele strukture, waar die eiendom beskadig of afgebrand is. Daarvan het net 52 000 huishoudings klagte by die polisie aangemeld. Dit is meer as die helfte van die slagoffers wat dit aangemeld het.

Misdaad en die individu

Meer mense het diefstal van persoonlike items by die polisie aangemeld as die vorige jaar met 902 000 mense wat klagte ingedien het. Dit is sowat 2,2% van die bevolking.

Altesame 451 000 slagoffers van 561 000 voorvalle van mense wat op straat beroof is, het dit by die polisie aangemeld.

Verder was daar 294 000 voorvalle van aanranding, maar slegs 225 000 van die slagoffers het dit aangemeld. Dit is minder mense wat die voorvalle in die vorige jaar aangemeld het.

Een misdryf wat meer gereeld aangemeld is, is verbruikersbedrog waar mense in ’n swendelary van bankkaarte en debietorders bedrieg word.

Daar was 1,4 miljoen voorvalle, maar net 384 000 mense het dit aangemeld. Dit is ’n afname van 21% van die vorige jaar.

Minder mense het ook kapings by die polisie aangemeld met 85 000 slagoffers van 99 000 voorvalle wat aangemeld is. Dit is 7% minder as in die vorige jaar.

Gevoel van veiligheid

Op ’n ligter noot voel 87% van Suid-Afrikaners veilig genoeg om bedags alleen in hul woonbuurte te loop. Sowat 41,8% voel steeds veilig om saans te loop met mans wat oor die algemeen veiliger voel as vroue. Dit het toegeneem teenoor die vorige jaar.

Mense in landelike gemeenskappe voel veiliger om alleen rond te loop as die mense wat in stedelike gebiede woon.

Kliek hier vir die volledige verslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.