Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Mesaanval: ‘Hy wou my hier doodmaak’

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat foto's wat sommige lesers kan ontstel. 

Met Alison Botha in haar gedagtes én die besluit om nie daardie dag dood te gaan nie, het ’n vrou van Port Elizabeth verbete teen ’n aanvaller baklei wat haar keel en nek met ’n stomp vismes probeer oopsny het.

Mariska Botha praat oor die aanval op haar by haar en haar man se huis op ’n hoewe in Kabegapark, Port Elizabeth. Foto: Cara-Lee Dorfling

Met die steke nog sigbaar in haar nek en oor albei haar hande, het Mariska Botha (41) in haar huis op ’n kleinhoewe in Kabegapark vertel hoe sy Vrydagoggend besluit het om te oorleef toe ’n man vir wie sy al baie kere kos en koffie gemaak het terwyl hy buite die huis gewerk het, haar aanval.

“Ek het op daardie oomblik gedink as Alison Botha dit kon oorleef, kan ek ook. (Botha het in 1994 ’n aanval oorleef waarin sy deur twee mans in Port Elizabeth verkrag en 35 keer in die maag gesteek en haar keel byna afgesny is.)

“En my man het altyd gesê hy wil nooit by die huis aankom en my dood daar kry nie, en ek wou nie hê hy moet my dood in die motorhuis vind nie.”

Botha is Vrydagoggende kort ná 09:00 oorrompel deur een van haar man, Basie, se werknemers. Sy is verskeie kere met ’n mes gesteek en is vasgebind.

Benewens die steekwonde het die aanvaller die mes in haar nek gesteek en dit daar gelos toe hy vlug.

“Hy het geweet ek kan hom herken, hy wou my hier doodmaak.

“Soos wat jy ’n brood sou sny, so het hy aan my keel gesny en my kop teruggetrek.”

Basie het pas Vrydagoggend gery toe die man oor die heining van hul huis spring.

Hy het gesê hy het sy identiteitsdokument die vorige dag in die motorhuis vergeet.

Botha het hom geglo, aangesien Basie en sy werkers altyd voorraad vir sy waterdigting-onderneming by die huis in die bakkie laai voordat hulle na die werkpersele uitry.

“Ek stap toe saam, want my man se gereedskap is al voorheen gesteel.”

In die gestoeiery het Botha gegryp na die mes – die snywonde aan haar hande verklap hoe hard sy probeer het – voordat sy die mes kon afvat en dit toe by die motorhuis se deur, wat op ’n skrefie oop was, probeer uitgooi het.

In die motorhuis het die man om Botha gestap, die motorhuisdeur toegetrek, haar vasgegryp en die mes teen haar keel gedruk.

Haar hande is met kabelbinders vasgemaak, terwyl een van Basie se sweetpakbroeke, wat in die motorhuis was, gebruik is om haar bene mee vas te bind.

Die man het daarna kort-kort vir Botha in die motorhuis kom vra waar die geld, bankkaarte en vuurwapens is.

“Al my hondjies was saam met my in die motorhuis, maar hulle het niks gedoen nie, want hulle ken hom.

“Hy het die honde later laat uitgaan en om een of ander rede my hande losgemaak, en dis toe dat hy my (keel) begin sny en ek begin baklei het.

“Gelukkig het hy my man se stomp vismes gehad en nie die skerpe nie.”

In die gestoeiery het Botha gegryp na die mes – die snywonde aan haar hande verklap hoe hard sy probeer het – voordat sy die mes kon afvat en dit toe by die motorhuis se deur, wat op ’n skrefie oop was, probeer uitgooi het.

“Ek het opgestaan om te probeer uitgaan, maar ek het lighoofdig gevoel. Hy het my toe opgetel en op die grond neergegooi.

“Ek het besef ek moet nou maak of ek dood is, anders gaan die man nie ophou nie.”

Sy het omgedraai om op haar maag en met haar gapende keelwond op Basie se sweetpakbroek te gaan lê.

“Ek het net bly lê. Hy het die mes in my rug gesteek en toe druk hy die mes hier iewers in my nek in, voordat hy uit is en die motorhuisdeur agter hom toemaak.”

Ek het vir Basie gesê hy moet vinnig by die huis kom, sy is aangerand, ek gaan kyk wat gaan aan.
Cheryl Wagner, die huurder

Met die mes nog in haar nek het Botha ontsnap.

Sy het ’n houtbeeld begryp en ’n ruit van ’n venster gebreek, deurgeklim en hulp by die buurhuis op die kleinhoewe gaan soek.

Cheryl Wagner, die huurder, het ’n bebloede Botha in haar huis gevind net toe sy met Basie oor die telefoon praat om te vra waar sy vrou is.

“Ek het vir Basie gesê hy moet vinnig by die huis kom, sy is aangerand, ek gaan kyk wat gaan aan. Toe sien ek die mes in haar nek.

“Die bloed het geloop, dit het gelyk of sy ’n rooi rok aan het, maar sy het sterk gestaan. Ek het dadelik die ambulans gebel en vinnig daarna was ’n klomp polisielede hier.”

Botha sê sy raak gewoonlik flou met die eerste teken van bloed, maar “wonder bo wonder” was dit nie Vrydag die geval nie. “Ek het krag gekry, ek het bly bid. Dit kon erger gewees het, die Here het my beskerm dat ek nie dood is nie.”

Die aanvaller het die mes agter in Mariska Botha se nek ingedruk en dit daar gelos voordat hy gevlug het. Foto: Cara-Lee Dorfling

Oor die mes in haar nek, sê Botha: “Ek het geweet dit gebeur, maar ek het niks gevoel op daardie oomblik nie. Dit het eers ná die tyd gekom.”

Sy is na ’n hospitaal gebring waar X-strale geneem is om te bepaal watter skade deur die mes aangerig is.

“Gelukkig is niks raakgesteek nie en die mes kon verwyder word.”

Teen Maandag het Botha steeds nie geweet hoe diep die mes in haar nek gesteek was nie, of hoeveel steekwonde sy het nie, omdat sy vir eers ’n spieël vermy totdat sy gereed is om te sien hoe sy ná die aanval lyk.

Botha sê sy weet nie wat die motief vir die aanval was nie. “Hy werk al meer as ’n jaar en ’n half vir my man. Ek ken hom, ek het al hoeveel keer vir hom kos en koffie gemaak.”

Ook Wagner sê Basie is ’n goeie werkgewer wat sy werkers goed behandel. Sy sê in die 20 jaar dat sy al op die kleinhoewe woon, is dit die eerste keer dat daar ’n aanval plaasvind.

Intussen het die polisie reeds Vrydag ’n 26-jarige man vir die aanval op Botha en die rooftog in hegtenis geneem.

Die man is met Botha se skootrekenaar, selfoon en juweliersware in sy besit betrap.

Hy sal Maandagmiddag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die steke in Mariska Botha se keel waar sy met ’n mes gesny is. Foto: Cara-Lee Dorfling
Meer oor:  Alison Botha  |  Port Elizabeth  |  Mesaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.