Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Met 12 koeëls in sy lyf verdedig hy haar

Terwyl meer as tien rowers Dinsdag op hom geskiet het, het Calvin Bronkhorst (23), wat toe reeds swaar gewond was, sy rug op hulle gedraai en terugbaklei om sy verloofde se lewe te red.

Wilmarie Pretorius (23) en haar aanstaande skoonma, Jackie Brits (50), was die afgelope Donderdag nog steeds geskok nadat Brits se seun, Calvin Bronkhorst (23), twee dae tevore 12 keer in ’n rooftog geskiet is. Foto: Elizabeth Sejake

“Hy het my lewe gered. Dis hoe Calvin is. Hy het nie ’n oomblik omgegee wat van hom gaan word nie. Toe ek skreeu iemand skiet op my ook, het ek geweet hy gaan my red,” sê Wilmarie Pretorius (23) van Meyerton in die Vaaldriehoek.

Sy het angsbevange op die vloer van Calvin se motor weggekruip – nes hy haar geleer het – terwyl een van die bende rowers aanhoudend op haar geskiet het.

“Hy het eenkeer vir my gesê as so iets gebeur, moet ek my stoel terugskuif en met my arms oor my kop op die grond gaan sit sodat die kar se enjinblok my teen die koeëls kan beskerm,” vertel Wilmarie.

Dinge het so skielik gebeur, ek het maar net gereageer.

Die paartjie is altwee lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), maar Dinsdag het hulle hulle toevallig in die rowerbende vasgeloop toe hulle ná werk gery het om brandstof in hul twee motors te gooi voordat die petrolprys styg.

Op pad het Calvin oor die GPF-radio van die rooftog by ’n supermark op hul pad gehoor. Daar gekom, het alles rustig gelyk. ’n Dosyn klante en personeel het buite die winkel rondgestaan.

Hulle het stilgehou. Een van die ooggetuies het Calvin gewys in watter rigting die rowers gevlug het. Hy het om die hoek geloer en toe tref ’n skoot hom in die linkerbeen, bo die knie.

“Hy swaai toe om en skree ‘My engel, hulle het my geskiet’ en toe tref die tweede skoot hom in dieselfde been,” vertel Wilmarie.

Skielik was dit oorlog.

Omtrent vyf rowers het al skietende op Calvin afgestorm.

Calvin Bronkhorst Foto: Hendrik Hancke

“Calvin het dwarsoor die parkeerarea met sy gewonde been na my kant toe gestrompel. Toe die skote klap, het ’n groepie mans skielik met ’n trollie vol drank by die drankwinkel, een winkel weg van die supermark, se deur uitgebars,” sê Wilmarie.

Sy het eers gedink dis klante, maar toe brand dié mans ook op Calvin los. Hulle was vermoedelik deel van dieselfde bende.

“Hy was vasgevang tussen die twee groepe rowers en het net sy pistool met een magasyn by hom gehad.”

Een van die rowers het Wilmarie in Calvin se motor sien skuil. Hy het haar beveel om uit te klim en toe begin skiet.

Sy het om hulp geroep.

“Calvin het net daar, onder vuur en vol koeëlwonde, sy rug op sy aanvallers gedraai en op hierdie ou geskiet totdat sy ammunisie opgeraak het,” sê Wilmarie.

Sy sluk swaar.

“Die man het na Calvin toe gestap en hom met ’n bottel of ’n pyp – ek kon nie mooi sien nie – geslaan en sy leë pistool gevat. Voor hy weg is, het hy bo-oor hom gestaan en hom nog ’n keer in die maag geskiet.”

Calvin is 12 keer raakgeskiet, onder meer in sy been, sy buik, sy voet en twee keer in sy bors, maar hy het wonderbaarlik oorleef.

“Die dokter sê dis ’n wonderwerk dat hy nog leef,” sê sy ma, Jackie Brits. Sy kan nie help om so te dink as sy na hierdie sifdraad-geskiete mens kyk en dink aan ’n ander man verlede week wat van een koeëlwond op die operasietafel dood is nie.

Calvin self was met Rapport se besoek nog effens deurmekaar. “Ek kan nie lekker onthou wat alles gebeur het nie. Dinge het so skielik gebeur, ek het maar net gereageer,” sê Calvin.

“Om te dink,” sê Wilmarie, “elke koeël wat deur sy lyf is daardie aand het iemand anders se lewe gered.”

Meer oor:  Calvin Bronkhorst  |  Skietvoorval  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.