Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Met haar kleinseun in oond, bid sy net

Toe rowers haar driejarige kleinseun beveel om in ’n oond te klim, kon sy niks anders doen as om vir Jesus te sing nie.

Annelize Swanepoel vertel hoe sy in haar huis aangeval is. Haar man, Peet, is in die rooftog vermoor. Foto’s: Elizabeth Sejake

“Ek het losgetrek met ‘Jesus min my, laat U engele op my neerdaal’,” sê Annelize Swanepoel oor haar reaksie op die grusame gebeure wat voorverlede Woensdag in haar huis in Del Judor in eMalahleni (Witbank) afgespeel het.

“Ek het nie geweet wat hulle volgende gaan doen nie.

“Een van die aanvallers het my stil gemaak en my beveel om nie vir hom te bid nie,” sê sy.

“Hulle het Franco (haar kleinseun) beveel om in die oond te klim, maar het nooit gedreig om iets aan hom te doen nie. Hulle het vir hom ’n koeldrank en ’n piesang gegee terwyl hy tjoepstil en bewegingloos voor hom uitgestaar het,” vertel sy.

Daar was net R73 in haar bankrekening en dit het hulle baie ontstel.

Kort daarna het haar man, Peet, by die huis aangekom. Hy is met ’n haelgeweer in die gesig geskiet nog voordat hy enigsins kon reageer. Hy is op die toneel dood.

Annelize sê sy het Franco soos elke ander oggend by sy ma gaan oplaai. “Ek het net ná 07:00 by die huis ingestap en is reguit kombuis toe. Toe ek ’n kombuiskas oopmaak, verskyn vyf mans.

“Al vyf het hul wapens op my gerig. Ek het eers gedink dit is ’n grap. Ek het toe begin skree en een van die aanvallers het my mus van my kop afgeruk en dit in my keelgat afgedruk. Toe ek sy vingers byt, slaan hy my in die gesig.”

Nog ’n aanvaller het Franco om sy mond gegryp en in Afrikaans gesê: “Jy gaan nie huil nie, nè.”

Annelize Swanepoel saam met haar dogter, Lené (19), en haar seun, PC (25), buite hul huis.

Die aanvallers het Annelize se hande met ’n selfoon se laaidraad vasgebind en haar en Franco na die hoofslaapkamer geneem. “Hulle het my op die grond gegooi, en wou geld hê. Ek het verduidelik daar is niks geld in die huis nie. Hulle sê toe ek praat te veel en een van die aanvallers het my met die agterkant van sy geweer teen die kop geslaan. Ek het toe vir ’n kort rukkie my bewussyn verloor.”

Sy is weer rondgestamp en hulle is terug kombuis toe. “ ’n Aanvaller het toe vir Franco gesê om die stoof oop te maak en in te klim.”

Hulle het haar beursie voor haar uitgegooi en haar beveel om hulle op haar selfoon se banktoepassing te wys hoeveel geld daar in haar bankrekening is. Daar was net R73 in haar bankrekening en dit het hulle baie ontstel, sê sy.

“Een van die aanvallers het ’n mes uitgeruk. Hy wou eers my oor afsny en toe my neus. Hy het my borste gegryp en was besig om my tepels te draai toe sy aandag afgetrek word. Ek het drie skote gehoor en die rowers is by die huis uit. Ek het net bly sit en vir Franco gewys dat ons moet wegkruip.”

Een van hul werkers het toe in die huis ingekom en vir haar gesê haar man is doodgeskiet.

Annelize sê die pynlikste oomblik vir haar was toe die polisie haar in kennis gestel het dat haar man se betroubaarste werker met die rooftog verbind word.

“Hy was my man se regterhand en sy linkerhand. As my man ’n sigaret aangesteek het, het hy een vir sy werker aangesteek en as hy vir homself koffie gemaak het, het hy ook vir die man gemaak.

“Dis vir my moeilik om te verstaan hoe die werker glo by die hek kon staan en wag terwyl hy geweet het wat die aanvallers binne-in die huis met ons doen.”

Meer oor:  Annelize Swanepoel  |  Peet Swanepoel  |  Emalahleni  |  Moord  |  Huisbraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.